Local news

Oom Corrie se lewe van toewyding aan sy gemeenskap

As ’n mens praat van ’n lewende legende en jy voeg daarby vonkelende blou oë en ’n aansteeklike skaterlag, sal inwoners van Bela-Bela sommer weet daar word van Corrie Nelson gepraat.

“Oom Corrie,” soos wat hy alombekend is, is op 5 Junie 1946 in die St. Vincent’s-hospitaal in die destydse Warmbad gebore. Daardie tyd was alle toegangsroetes na die dorp nog stofpaaie. Die gemeenskap was klein en almal het mekaar geken en mekaar ondersteun.

Corrie het as kind in die stofstrate gespeel, maar het sy horisonne wyd gemaak en sy lewenservaring en kundigheid het die landsgrense oorskry.

Hy het ’n onuitputbare bron van lewenslus en het nimmereindigende staaltjies en grappies om te vertel. Hy het van jongs af sy liefde vir die natuur en landbou met ander gedeel.

As gesoute beesboer het hy sy kundigheid op die boereverenigings waar hy deel was, oorgedra. Hy het lank die leisels gehou by Mabula-boerevereniging. Hy het sy boerdery uitgebrei en mielies en aartappels begin plant.

Corrie het langer as drie dekades op die bestuur van die Warmbad-boerevereniging gedien. Hy was ook in dié tyd deel van die skoukomitee wat jaarliks die Warmbad-skou aangebied het waar boere hul diere geskou het in aanloop tot die Pretoria-skou.

Hy het in 2003 na die Vrystaat verhuis om met skape te boer, maar soos hy self sê, hy het bly hunker na die Bosveld. Uiteindelik het hy in 2009 ’n kleinhoewe in die Turffontein-omgewing gekoop en met skape begin geboer.

Sy toewyding tot die gemeenskap strek verder as net die landbou. Corrie het ’n leiersrol in die plaaslike rugbyklub gespeel waar hy jare lank as voorsitter gedien het en jong rugbyspelers gemotiveer het. Hy het die gemeenskap weer opgewonde gemaak oor plaaslike rugby en die tradisie van dorpsrugby-ondersteuners laat herleef. Hy het ook sy gewig by plaaslike skole gegooi waar sy kinders skoolgegaan het.

Die Turffontein Plaza-buurtwag is in 2013 deur Corrie gestig. Hy het baanbrekerswerk gedoen in die beveiliging van landelike omgewings en die voordeel van ’n buurtwag beklemtoon. Hy het die pos van voorsitter sewe jaar lank beklee en onder sy leiding het die buurtwag ’n bron van veiligheid en eenheid in die gemeenskap geword.

Hy dink met nostalgie terug aan die dae van die McCord-melkery in die hoofstraat en die winkels wat al die boere se benodigdhede voorsien het. Hy vertel ’n mens kon destyds van lekkergoed in ’n groot bottel op die toonbank tot ’n fleurige stukkie lap vir Ma se Nagmaal-uitrusting tot ’n rol doringdraad en tang in dieselfde winkel koop.

Hy het ook in sy leeftyd baie wonderwerke beleef. Een herinnering wat hom bybly is toe dit een jaar besonder droog was en vriend, Connie Jansen, hom moed ingepraat het. En sowaar: binne dae het mildelike reën uitgesak.
Corrie is meer as net ’n inwoner van Bela-Bela: hy is ’n wandelendegeskiedenisboek, ’n bron van wysheid en ’n vurige beskermheer van gemeenskap en tradisies.

Hy en sy vrou, Tienie, is albei baie lief vir die dorp en omgewing. Dit is ’n groot lekkerte om by hierdie twee hartlike mense te kuier.

Related Articles

Back to top button