EntertainmentLocal newsSchools

Dié leerder se stem laat koppe draai

"Die Here het my die talent gegee en ek voel ek moet dit ten volle gebruik."

’n Leerder van Hoërskool Hans Strijdom in Mookgophong, Lavo-nè Janse van Rensburg, het op Saterdag 11 November aan die ATKV Afrikiti-fees deelgeneem en die beoordelaars bekoor met haar fluweel stem.

Sy het op Saterdag 28 Oktober ’n uitnodiging van die ATKV Waterberg-tak ontvang om aan die ATKV Afrikiti — Jou taal- en kultuurfees — by die Klein Kariba-vakansieoord buite Bela-Bela deel te neem. Sy het ’n eerste plek in haar afdeling verwerf met haar gunstelingliedjie: Never Enough uit The Greatest Showman-rolprent.

“Lavo-nè het tot dusver geen formele sangopleiding ontvang nie. Sy leer so tussen ons by die huis en het gou besef dat kritiek nie ’n struikelblok is nie, maar eerder ’n trappie om te verbeter,” het haar trotse ma, Cindy Janse van Rensburg, gesê. “Sy het op sewejarige ouderdom die geleentheid gehad om ’n paar liedjies saam met haar pa op te neem vir sy CD.”

Sy deel haar passie en liefde vir musiek deur sanglesse vir kleuters en laerskoolleerders aan te bied.

“My rolmodel is beslis my pa. Die Here het my die talent gegee en ek voel ek moet dit ten volle gebruik. Ek wil graag ander kinders motiveer om ook hul talente uit te leef,” het Lavo-nè gesê.

Abba is van haar gunstelingpopgroepe en die Afrikaanse sanger Nadine is hoog op haar trefferlys. Dit was vir Lavo-nè ’n groot verrassing toe Nadine die gaskunstenaar by die kunstefees was. Nadine was nie deel van die paneel beoordelaars nie.

Sy het ingeskryf vir die afdeling musikale blyspele en rolprente (musicals) waar die deelnemers ’n liedjie wat in ’n film gebruik word, moes sing. Die beoordelaar vir hierdie kategorie, Philip Kotzé, bekende tenoor, was beïndruk met haar vertolking van die lied.

Kotzé was die sang- en musiekbeoordelaar en was lank bekend op opera- en musiekblyspelverhoë. Saam met sy vrou, Ella, het hulle as die sangpaar Phillip en Ella gesing. Phillip was ook jare lank deel van die gewilde Drie Tenore-groep saam met Du Preez Stoltz en Chris Coetzer.

Kotzé het sy eie sangskool en die mense wat deur sy bekwame hande gaan, staan hul plek vol in die musiekbedryf. Die 2022-wenner van Die Kontrak, Samantha Leonard, is een van Kotzé se sangstudente. Hy is ook deel van die musiekbediening in sy kerk en speel pragtig klavier.

Related Articles

Back to top button