EntertainmentLifestyleLocal news

Kersliggiefees gaan betower

Die inwoners van Mokopane en die omliggende dorpe word elke jaar in Desember met ’n Kersliggiefees herinner waaroor Kersfees eintlik gaan.

Die Ons Tuis Piet Potgieter-ouetehuis in Mokopane is gereed om vanjaar weer besoekers van 1 tot 25 Desember te vermaak met ’n fees en Kersliggies wat almal sal betower.

Die fees op die tehuis se terrein begin op Vrydag 1 Desember met’n ֹKersmark. Daar kan inwoners Kersinkopies by die verskillende stalletjies doen. Daar is van leesstof, speelgoed en handgemaakte produkte tot smaakvolle lekkernye.

Die bekende kunstenaar Renier Oosthuizen van Haenertzburg sal ook sy skilderye wys. Thys Gouws is die seremoniemeester en vanaf 18:00 kan besoekers hul dansskoene aantrek vir ’n vertoning van Dansmuis gelei deur Marisa Kirsten.

Renier Oosthui-zen sal sy kuns-werke uitstal.

Die Kersmark gaan op Saterdag 2 Desember voort en sluit ’n reeks dansvertonings in. Besoekers kan kyk na die lyndansers, asook die dansers van Z’s dansstudio en die jong balletdansers van Nedene van Niekerk se balletskool. Die dag word afgesluit deur die bekende Cantina Brass-orkes.

Op Sondag 3 Desember is die sanger Franna Benade agter die mikrofoon as deel van ’n spesiale Kersprogram. Kaartjies kan vooraf by die tehuis gekoop word en besoekers kan hulself agterna bederf met heerlike biltongpasta.

Mariana van Tonder, bestuurder van die tehuis, nooi almal om te kom deel in die fees en om die liggies te kom aanskou wat tot 25 Desember elke aand helder sal brand.
Die tehuis vra ’n donasie van R10 as toegang by die hek. Skakel tel. (015) 491 6314/5 vir navrae en om jou kaartjie vir die Kersprogram te kry.

Related Articles

Back to top button