Blogs

Hoofartikel: Daar is geen wenners; slegs verloorders in ’n oorlog

Is dit dan makliker om mekaar te haat as om mekaar te verstaan? Geweld was nog nooit ’n oplossing vir probleme nie.

Die oorlog tussen Rusland en Oekraine woed nog voort toe reën die bomme oor die Gaza-strook in die Midde-Ooste.

Dit laat geboue tuimel, skietgevegte in die strate is ’n bekende gesig en selfs in hospitale is pasiënte nie veilig nie. Daar is nie drinkwater of kos nie. Oral is landsburgers wat met leë oë en karige besittings voortstrompel of weghardloop om te kyk of hulle elders ’n heenkome kan vind.

Dit is wat ons elke aand op ons televisie se nuusberigte sien oor die vernietigende oorlog wat tans in Palestina woed. Die massa-uitwissing en gruweldade het op Saterdag 7 Oktober begin met die militante Palestynse groep, Hamas, wat Israel aangeval en gesinne voor die voet afgemaai of gyselaars gevange gehou het. Babas en kinders is trompop geskiet, wreedaardig vermoor en volgens nuusbronne vier verkragtings hoogty.

Wêreldleiers vra vir ’n skietstilstand en die groot moonthede sê onbeskaamd waar hul steun lê. Die VSA se president Joe Biden het dit duidelik gemaak sy land se steun aan Israel is “standvastig en onwrikbaar”. Iran se steun gaan weer aan die Palestynse militante.

Dit is noodsaaklik om verdere gruweldade en lewensverlies te voorkom deur ’n wapenstilstand en die vrylating van gyselaars te bewerkstellig. Niemand wen ’n oorlog nie — daar is net verloorders, ­dooies, gewondes en mense wat jare lank met die trauma van verlies en hartseer worstel.

Wêreldwyd is die mensdom omgekrap en die natuur is ook kwaad en wys sy misnoeë met vloede, droogtes en allerlei natuurrampe. Nou wonder ek: Is dit dan makliker om mekaar te haat as om mekaar te verstaan? Geweld was nog nooit ’n oplossing vir probleme nie.

Ek kyk na die enorme probleme wat daar tans in ons lesersgebied heers: Gate in paaie wat deesdae net met hopies grond opgevul word, riool wat die Sonskyndorp verswelg, droë krane is aan die orde van die dag in al die dorpe van ons lesersgebied en beurtkrag lê ons land lam. Uit alle oorde word berig oor munisipaliteite wat nie infrastruktuur behoorlik onderhou nie en nou in duie stort. Dan veg ons teen korrupsie en ons land se swak ekonomie het sakeondernemings in ’n wurggreep en laat armoede net verder uitkring.

Vanoggend is die inwoners van die kompleks waar ek woon, weer eens met hul emmers en bottels by die kraan langs die watermeters om water te kry, want ons het sedert verlede Vrydag nie water in die krane in ons huise nie — ondanks almal se klagtes van buitensporige hoë waterrekeninge. By die werk moet ek hoor en sien die koperpype wat water vanaf ons watertenk vervoer, is die naweek gesteel.

Dit was beslis ’n jaar met talle uitdagings vir ons almal. Ondanks al die negatiwiteit waarmee ons elke dag gebombardeer word, mag ons nie hoop verloor dat ’n beter uitkoms, vrede en voorspoed vir ons wink nie.

Related Articles

Back to top button