Local newsMunicipal

Stadig met die water, asseblief!

Droë krane en vuil water het inwoners in die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit die afgelope paar weke gefrustreer.

Wyksraadslid Wiets Botes het inwoners van Modimolle die afgelope week gevra om stadig met die water te werk omdat die reservoirs leeg en die stelsel onder druk is. Die warmer weer veroorsaak dat mense meer water gebruik en hul tuine natspuit, het hy gesê.

“Wanneer die reservoirs heeltemal leeg is, meng die water met die slyk onderin en veroorsaak bruin water. Ek het navraag by die munisipaliteit gedoen en Magalies Water lewer slegs die helfte van hul kwota water. Daar is tans ook nog opgraderingswerk wat gedoen word aan die pyplyn vanaf die Donkerpoortdam.”

Die pyplyn word bykans verdubbel om die kapasiteit te vergroot. Die opgradering, wat teen Julie aanstaande jaar afgehandel behoort te wees, sal ook ’n einde maak aan die lekke wat veroorsaak dat baie water verlore gaan.

Botes het verduidelik dat die reservoirs snags volgemaak word en die slyk dan kans gegee word om af te sak sodat die water skoon is voordat dit uitgepomp word.

“Daar is dele van Phagameng wat al drie maande lank nie watertoevoer het nie. Die munisipaliteit probeer om die water só te versprei dat almal water ontvang.”

Hy ontvang talle klagtes oor die reservoirs wat oorloop.

“Die reservoir in Gholfstraat ontvang water van Donkerpoort danksy gravitasie. Daardie 150 mm-pyp is 8 km lank en vol water. Wanneer ons ’n kragonderbreking ervaar, kan ons nie water uit die reservoirs pomp nie en dit is dan wanneer dit oorloop. Daar is nou nuwe kontrakteurs aangestel om kragopwekkers by die reservoirs te koppel sodat ons ook tydens beurtkrag water kan pomp.”

In Vaalwater gaan inwoners ook gebuk onder krane wat kort-kort droog is. “Waar is die water?” is ’n gereelde vraag op gemeenskapsgroepe.

“Van die druktorings in Vaalwater word tans geseël sodat dit nie lek nie. Die munisipaliteit wag ook vir waterpype wat bestel is. Dit sal volgens beplanning teen die einde van hierdie week geïnstalleer word,” het Botes gesê.

Related Articles

Back to top button