Local news

Wolfabriek in die hart van die Waterberg

Wanneer ’n mens Leigh van Vuuren van Mookgophong ontmoet, sien jy sommer die entoesiasme waarmee sy haar passie — haar wolfabriek, Wooligalooli, uitleef.

“Ek het ’n liefde vir hekel en nadat my man eendag ’n opmerking gemaak het oor die sintetiese wol wat ek gebruik, het ek besef dat natuurlike vesel baie beter en meer duursaam is. Ons het navorsing begin doen oor hoe katoen en wol geproduseer word tot bruikbare produkte en dit baie interessant gevind. Dis hoe ek in die wolbedryf beland het,” het sy aan Die Pos gesê.

Sy het ’n tweedehandse tradisionele spinwiel gekoop en haarself geleer spin.

“Die eerste vesel waarmee ek gespin het, was rou katoen. Dit was baie uitdagend en het baie ure se vermaak aan my man en ons seun verskaf as ek so gesukkel het om die kort vesels gespin te kry,” het sy laggend vertel.

Leigh van Vuuren by haar spinmasjien.

Later het sy geprosesseerde merinowol, ander skaapwol, bamboes en syvesel gekoop en die spinproses het heelwat beter gegaan danksy die langer vesellengtes.

Haar gunstelingmateriaal om te gebruik is merino- en alpacawol danksy hul natuurlike waardes. Albei is warm, sag, anti-allergiese vesels en bind goed met kleursel. Leigh koop die bale wol direk van die boere aan en dan begin die proses van was, kam, spin, kleur en weer spin. Om die vesel wat gewoonlik wit is, te kleur, het haar kreatiewe krane oopgedraai. Daar is ontelbare aantal kleurskemas. Sy vertel dat daar geen reg of verkeerd is nie — net interessante kombinasies.

Stefan, haar man, is ’n siviele ingenieur en het vir haar ’n e-spinner gebou wat die spinproses versnel het.

“Ons het mettertyd besef dat daar baie verskillende masjiene nodig is om die proses te voltooi en Stefan het begin ontwerp en bou. Vandag is al die gereedskap in my fabriek deur hom ontwerp en gebou en ons werk net met batterykrag.”

Volgens Leigh is die skakerings van wol onbeperk.

Die rou alpacawol moet met die hand “gepluk” word om opsigtelike vuilgoed soos stokkies, blare en dorings te verwyder. Dan word dit ongeveer drie tot vier keer met die hand gewas om al die stof en ander onsuiwerhede uit die wol te verwyder. Daarna volg verskeie prosesse voordat dit bruikbaar is. Alpaca kom in 12 natuurlike kleure voor wat almal variante van wit, room, bruin tot swart is. Die kleurstowwe wat gebruik word bevat geen skadelike chemikalië nie.

Die uitdaging is wel die aankoop van die rou wol, aangesien die boere eerder aan die mark verkoop as uit die hand. Pryse is ook wisselend volgens heersende markwaardes. Daar word ook net een keer per jaar geskeer en dit maak die bekombaarheid daarvan moeilik. Invoer is egter nie vir haar ’n opsie nie, want sy wil graag die plaaslike mark ondersteun.

“Ek streef na ’n veilige, vriendelike, werksplek wat werk bied aan vroue uit minderbevoorregte gemeenskappe,” het Leigh vertel.

Leigh het in Middelburg in Mpumalanga grootgeword. Sy het ná skool saam met haar gesin in Langebaan aan die Weskus gewoon waar sy ook vir Stefan ontmoet het. Sy het ’n graad in finansiële informasiesisteme deur die Universiteit van Suid-Afrika (Unisa) voltooi.

Stefan is ’n boorling van Mookgophong. Die gesin het drie jaar lank in Tzaneen gewoon en in 2000 Mookgophong toe verhuis.

Kontak Leigh vir uitstappies by leighvv3@gmail.com of stuur vir haar ’n Whattsapp by tel. 083 564 4605.

Related Articles

Back to top button