Blogs

Kommentaar: Geen krag en water laat humeure opvlam

Ek hou nie van oorlog nie, maar deesdae woed daar ’n hewige geveg in my binneste.

Ek baklei vir gewone dienslewering soos om water in my krane te hê om my basiese huishoudelike pligte soos skottelgoed was te kan doen. Om wasgoed te was of om ’n heerlike stort na ’n lang werksdag te neem, is duidelik nie vir ons beskore nie. Wat die wrewel nog verder roer is dat ek betaal deur my nek vir dienste wat ek nie ontvang nie.

Hier in die Sonskyndorp moet ons maar ons rekeninge vereffen al is die diens nie gelewer nie. Ons is nie so gelukkig soos inwoners van die township wat water kry en nie noodwendig daarvoor betaal nie.

Vanoggend is dag drie van droë krane hierdie week. My huishulp moet onder by die buitenste kraan langs die watermeters met ’n emmer gaan water tap omdat die krane bo in die woonstel droog is. My hare moes ek noodgedwonge in ’n bolla op my kop stapel, want daar was weereens nie water om dit te was nie.

’n Week of wat gelede het ek op die vierde opeenvolgende dag van geen water die munisipale woordvoerder, Peter Moloto in die nagtelike ure gekontak wat toe met my saamgestem het dat dit onaanvaarbaar is.

Twee munisipale werkers het toe laatnag opgedaag en die brandkraan langs die watermeters van die kompleks oopgedraai. Hulle het die straaltjie water wat daaruit vloei op video afgeneem, en was tevrede dat daar wel water uitkom. Ek het aan hul probeer verduidelik dat die watertoevoer en drukking te swak is om tot binne in ons huise te kom en het hul genooi om self die krane te gaan oopdraai. Hul het egter geweier en weggery. Later daardie selfde aand was daar toe water en die Vryheidsfront Plus se raadslid, JeeDee Cloete, het aan my verduidelik dat die waterstelsel op gravitasie gebou is. Omdat die reservoirs se vlakke so laag is, is die drukking in die pype ook laag.

My waterprobleme is nimmereindigend, want die kersie op die koek was toe die 92-jarige eienaar van my huurplek my laat weet sy het einde Oktober ’n munisipale rekening ontvang wat aandui dat ek bykans R2 000 se water gebruik het!

As enkelopende wat vroeg uit die vere is en eers met sononder terug is in my nes, is dit ondenkbaar om te glo dat ek al daardie water gebruik het. Ek het ook nie ’n tuin nie en koop my drinkwater. Boonop weet ek dat die krane die grootste gedeelte van die dag droog is.

Die munisipaliteit hou voet by stuk dit is wat die meterlesing sê en basta met die res. Betaal, betaal, betaal. Nee ek weier volstrek!

So gebeur dit dat ek verlede Sondag nadat ek uithuisig was en met my terugkeer wéér nie water het nie, gaan kyk ek na die watermeter en was geskok om te sien daardie meter loop en meet die water wat NIE in die krane is nie. Cloete het aan my verduidelik dat lug in die pype die meter sal draai. Indien die munisipaliteit dit weet hoe kan hul navrae op verkeerde rekeninge net afmaak as dit was die verbruik?

Nou ná twee weke is dit steeds ’n gespook en gespartel saam met die Vryheidsfront Plus se Jandia Roets om vas te stel wat aangaan.

Die water en kragprobleme van ons dorp laat my dink aan ’n manipulasie speletjie, dan is daar, dan is dit weg. Dit is soos om vir ’n kind ’n rooi suigstokkie te gee en net as hy die lekkerte geniet, word dit onverwags teruggevat.

Vat nou die vlammesee wat ons onlangs hier in die dorp se buitewyke beleef het. Ná die tyd word ons onthef van beurtkrag en net toe dié saligheid inskop, is dit uit die bloute terug. Ek vra Moloto hieroor, maar kry geen antwoord nie. Cloete laat weet “dit is soos kots in ’n tuimeldroeër, niemand weet regtig”.

Die munisipale kennisgewings waarvan die datum meestal net verander word, ken ons almal al uit ons koppe. Waterbeperkings weens die hoë verbruik. Ag nee wie flous julle? Ons damme is propvol, wees eerder eerlik met die inwoners en sê vir hulle die infrastruktuur is nie behoorlik onderhou nie.

Cloete verduidelik aan my inwoners moet hulself staal om vir die volgende ses maande so te sukkel.

“Ons kry water uit drie damme wat na die pompstasie gaan. Dit word dan met die pyplyn na die aanleg vervoer waar daar agt filters is, maar nie almal werk nie. “Die water word dan in die ‘holding’ reservoir gehou en gaan dan na die ‘command’ reservoir wat sekere brandkrane (hydrants) voer, die hospitaal en die ou township.”

Hy teken ’n skematiese voorstelling wat wys die ‘command’ reservoir het ook ’n tenk met nog ’n reservoir wat ons selde gebruik.

“Toe bou hulle die groot en klein reservoir op die berg. Die reservoirs voorsien die dorp se inwoners. Magalies Water se pype loop daar verby en voed ook die reservoir wat water aan sekere dele van die township voorsien. Die township kry dus voor die res van die dorp water.”

Voorts verduidelik hy dat Magalies Water volgens kwota aan ons ses megaliter water per dag moet voorsien, hulle kan egter nie die kwota lewer nie en is ons gelukkig as ons tans vier megaliter ontvang. Hierdie kwota voorsien eerste aan die mense wat in Pienaarsrivier woon. Die deel wat oorbly word na Bela-Bela gepomp.

“Die water vloei tot by Sondela en dan tot in uitbreiding agt van die township. Die res wat oorbly kom na die ander dele in die dorp. Ons kry op ’n goeie dag so 3 megaliter. Op ’n dag soos vandag kry ons net so 1,5 megaliter.”

Cloete vertel ons het net een pomp hoewel die lyn voorsiening maak vir drie.

“Ek het nou ná agt maande gehoor daar is uiteindelik ’n tweede pomp bestel. Dit los egter nie die probleem op nie, want al agt die filters by die suiweringsaanleg werk nie. Die filters is ’n tyd gelede opgegradeer van 4 megaliter na 7,5 megaliter, maar weens swak werk van die kontrakteur kon die filters nog nie die vorige 4 megaliter haal nie.”

Cloete sê die vorige raad het nie seker gemaak dat die kontrakteur sy werk behoorlik gedoen het nie.

“Ons skuld die kontrakteur nog retensie gelde, maar sy betaling is vir eers opgeskort, want sy werk was nie volgens die regte spesifikasies nie.”

Hy sê toe hy as raadslid begin werk het, het net twee filters en een verhelderaar gewerk.

“Vandag werk al drie verhelderaars, twee filters werk 100%, nog een werk 70% en van die ander vyf wat opgegradeer moes wees, darem al drie op so 50%. Hy sê dat hy self is nog besig om met die kontrakteur te onderhandel om die vyf oorblywende filters op 100% kapasiteit te kry.”

Al hierdie inligting laat my so bietjie verward, maar as ek die inligting reduseer, luister ek na hom en dink aan die vakansiegangers wat amper op pad hierheen is vir die feestyd. Toeriste wat in die warm son in ons water wil kom baljaar, die krane oopmaak vir ’n koue stort en saans agteroor by ’n lig wil sit en boek lees.

Ek dink ook aan die verkiesing wat aanstaande jaar gehou word en hoop werklik die inwoners sal hul kruisies gaan trek vir diegene wat kan sorg vir basiese dienslewe-
ring en vooruitgang.

Related Articles

Back to top button