Schools

Hansie-entrepreneur maak wyd opslae

Die jong entrepreneur van Mookgophong, Phillip Bredenhann (16), is op Woensdag 4 Oktober tydens die Maak My ’n Miljoenêr-kompetisie se gala-aand in die Atterbury Teater in Pretoria as derdebeste in die landwye kompetisie bekroon.

Die laaste episode van die kompetisie is op Woensdagaand 1 November op KykNet se VIA-kanaal uitgesaai en daarom kon die uitslae nie vroeër bekend gemaak word nie.

Phillip was die afgelope agt maande deel van die program en het sy staal gewys met sy heerlike sjokoladeblokkies wat hy maak en verkoop. Hy het tydens die Covid-19-pandemie begin bak en brou om sy ouers finansieel by te staan.

Hy het R15 000 kontant gewen, ’n vakansie vir sy gesin by Buffelspoort, web-en logo ontwerp vir sy sakeonderneming en ’n jaar mentorskap onder leiding van Albert van Wyk wat die kompetisie aangebied het.

“Ek is baie bly dat ek derde in die land is en ek is dankbaar vir die voorreg om saam met Albert te kan werk,” het hy gesê.

Hy wil ook graag sy kennis gebruik om ander entrepreneurs te help en hulle aanmoedig om deel te neem. Hy het nou die eiendomsmark betree en verkoop ook motors.

Hy is opgewonde oor die toekoms en het nog baie planne om sy onderneming uit te brei en selfs nuwe ondernemings te begin.

“Ek het die hele kompetisie baie geniet en soveel geleer wat ek kan toepas in my eie sakeonderneming,” het hy gesê.

Hy het ook groot waardering vir sy ouers en die gemeenskap wat hom ondersteun het.

Dit is egter nie net Phillip wat gewen het nie, maar Hoërskool Hans Strijdom het ook R20 000 gewen vir hulle bemarking van Phillip en die kompetisie op sosiale media en in die plaaslike media (Die Pos-koerant).

  • Albert van Wyk het, soos Phillip, reeds op skool as entrepreneur begin naam maak. Hy het groot welslae behaal en was op 22-jarige ouderdom reeds ’n miljoenêr. Hy het die kompetisie in samewerking met die ATKV, Afrikaans.com en GAZZAROO aangebied.

Nog ’n Hansie, Janus Boshoff, was ’n finalis in die toptwintig-uitdunronde.

Related Articles

Back to top button