Local news

Help tel aan die vinnigste landdier

Boere wat deelneem aan ’n jagluiperdsensus staan die kans om ’n vyfdag lange bootreis gedurende Desember na Pomene in Mosambiek te wen.

Die Cheetah Outreach Trust werk saam met Ashia Cheetah Conservation, die Universiteit van Stellenbosch en die Universiteit van Groningen in Nederland om navorsing oor vrylopende jagluiperds in Suid-Afrika te doen. Hulle moedig boere aan om ’n vraelys in te vul waarna hulle die kans staan om ’n bootreis en gereedskap van Tork Craft te wen.

Die sensus het reeds in September verlede jaar afgeskop, maar sal na verwagting tot in 2025 duur omdat die gebied waar vrylopende jagluiperds voorkom, so wyd strek. Dit strek vanaf die Kgalagadi-oorgrenspark in die weste tot teen die Krugerwildtuin, die Noord-Kaap, Noordwes en Limpopo.

Die inligting wat op hierdie manier ingewin word, sal die navorsers in staat stel om bome wat deur die jagluiperds gemerk word, op te spoor. Dit is bekend dat sekere bome kommunikasiepunte vir die diere is en veldkameras sal daar geplaas word. Die kameras word gereeld deur veldwerkers nagegaan.

Jagluiperds word geklassifiseer as kwesbaar. Daar was in 1900 ’n geraamde 100 000 jagluiperds regoor Afrika, maar daar is tans na raming net 7 500 vrylopende katte oor. Die bevolking het in die afgelope 18 jaar met 30% gekrimp.

Anders as die ander groot katte, verkies jagluiperds volgens die African Wildlife Foundation om bedags te jag, meestal vroegoggend of laatmiddag. Jagluiperds is meestal alleenlopend, hoewel die mannetjies soms ’n ruk lank saam met ’n wyfie sal rondloop. Die wyfie is andersins alleen of saam met haar welpies.

Ongelukkig is die sterftesyfer onder welpies baie hoog, met 50% tot 75% wat binne die eerste drie maande vrek weens siekte of omdat hulle deur roofdiere soos arende en hiënas gevang word.

Mense wat aan die sensus wil deelneem, kan die webwerf https://tinyurl.com/cheetahcensus besoek.

Die trekking vir die bootreis vind einde Oktober plaas.

Navrae kan gestuur word aan frcc.queries@gmail.com(.)

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button