Local sport

Boykie gee sy drome vlerke

Dit was ’n lang trap van die Kaap na Limpopo, maar alles het seepglad verloop, vertel Boykie Monareng (42) met ’n breë glimlag.

Hy het op Dinsdag 17 Oktober, ná nege dae se fietstrap vanaf die Waterfront in Kaapstad tot in Musina, die roete voltooi as deel van sy geestesge-sondheidbewustmakingsprojek.

“Ek het 1 923 km se trap agter die blad en ’n hele dag vroeër klaargemaak as wat ek beplan het.”

Monareng vertel hy het op Maandag 9 Oktober teen hanekraai weggespring en dag een sowat 290 km getrap. Hy het deur Laingsburg na Beaufort Wes gery en toe verder na Hanover. Van daar het sy fiets se voorwiel in die rigting van die Vrystaat geswenk en was Bloemfontein sy volgende mikpunt.

“Dit het baie gereën en ek is in Bloemfontein na ’n hospitaal, want my bene was baie seer en koud en moes aandag gekry het.”

Monareng sê hy het toe die pad na Kroonstad aangepak.

“Dit was die deel waar ek die moegste was, want ek het toe al meer as ’n 1 000 km afgelê. Ek het vandaar na Krugersdorp getrap en toe ek weer sien, wink Pretoria se liggies.”

In sy tuisdorp (Bela-Bela) in Limpopo is hy ingewag deur sy lojale ondersteuners voordat hy die laaste skof na Musina aangedurf het.

Hy was bly oor die fietsryers wat hy langs sy roete gekry het wat sekere dele saamgetrap het.

Monareng sê hy is ’n trotse ambassadeur wat sy fiets se speke laat sing om geestesgesondheid te bevorder.

Sy groot droom is om in 2025 in Egipte te gaan deelneem. Hy meen om van Kaapstad na Musina te ry was goeie voorbereiding vir dié oorsese uitdaging.

Hy vertel hy is ook genooi om in Amerika te gaan fietsry saam met ’n klub wie se lede beoog om regoor die VSA te ry.

“Ek wil in 2024 skole help met pretdrafgeleenthede en sport onder die leerders bevorder.”

Monareng is nie net ’n ywerige fietsryer nie, hy het ook al verskeie Comrades-marathons voltooi.

Hy bedank al sy borge en vra mense om hom te help om sy nuwe uitdagings aan te kan pak.

Donasies kan inbetaal word in Run Boikie Run, Capitec Bank, rekeningnommer: 1503 164 762. Bel hom by tel. 076 181 2592.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button