EntertainmentLocal news

Groot bederf vir musiekliefhebbers

’n Groot bederf wag op musiekliefhebbers met die talentvolle en internasionaal bekende Amira Willighagen wat eersdaags in Modimolle optree.

Dié jong sopraan sal Vrydag 3 November by die Weesgerus-vakansieoord optree.

Amira het in 2013 op negejarige ouderdom die skare verstom met haar sterk stem en die TV-reeks Holland’s Got Talent gewen met haar weergawe van “Nessun Dorma” uit Puccini se opera Turandot. Haar optrede het gou ’n YouTube-sensasie geword met meer as 44 miljoen kykers. Sy het sedertdien regoor die wêreld opgetree onder andere saam met die vioolspeler en dirigent André Rieu in Maastricht.

Amira, wat in Holland grootgeword het, woon tans in Potchefstroom.

“My ma is Afrikaans en het ons tydens ons gereelde besoeke aan Suid-Afrika nie net aan die mooi nie, maar ook aan die uitdagings van die land bekendgestel. Ek het al oral ter wêreld heen gereis, maar Suid-Afrika bly my gunstelingplek. Ek woon baie lekker in Potchefstroom,” het die 19-jarige aan Die Pos vertel.

Sy neem tans ’n rusjaar en doen net ’n paar optredes voordat sy sal besluit of sy verder wil studeer. Sy het verlede jaar gematrikuleer. Amira het reeds vanjaar optredes in Nederland, Noorweë, die Drakensberg, Paternoster en Johannesburg gehou. Sy reis later vanjaar na Amerika vir Kersoptredes.

Dit is juis haar ma se blootstelling aan al die aspekte van die land wat haar geïnspireer het om haar stigting Gelukskinders op die been te bring.

“Toe ek ’n kind in Holland was, was dit tradisie dat die kinders in die parkies gaan speel wanneer die grootmense kuier. Ons kon kies en keur waar ons wou speel. Met ons besoeke aan dié land het dit my opgeval dat baie van die arm woonbuurte glad nie parkies het waar die kinders kan speel nie. Speel is nie ’n luukse nie, dit is ’n moet vir jong kinders se ontwikkeling veral wanneer hulle uit moeilike omstandighede kom,” het sy gesê.

Haar stigting het, met die hulp van haar talle aanhangers, reeds 21 speelparkies in armer woonbuurte opgerig.

Amira vertel op haar gemaklike manier dat haar ouers en haar broer musiekinstrumente bespeel het en sy graag deel daarvan wou wees.

“Ek was sewe jaar oud en het besluit as ek nie ’n instrument het nie, dan gaan ek sing. My ma vertel dat ek van my babadae af ’n kragtige stem gehad het,” lag sy.

Sy het besluit om haar ma te verras. Haar ouer broer het vir haar die Italiaanse woorde van die gesang Pie Jesu foneties neergeskryf sodat sy dit kon leer en sy het dit sonder begeleiding vir haar gesing.

“My ma was in trane,” het sy vertel.

Haar liefde vir sing het vandaar gegroei en haar uitsonderlike stem het aandag getrek. Nádat sy Holland’s Got Talent gewen het, was sy op die internasionale verhoog.

Amira het die afgelope week die lied Amen, wat sy saam met die ewe talentvolle Ndlovu Youth Choir sing, bekendgestel. Dit is op YouTube beskikbaar.

Kaartjies vir haar optrede in Modimolle kos R150 en is bekikbaar by iTickets, Hunky Dory Modimolle, Dulux Modimolle of by LPD Studio of Dancing by tel. 082 499 5920.
Vir navrae en meer inligting, bel vir Engeline Gericke by tel. 082 770 1701 of vir Chris Dyzel by tel.079 891 4309.

Related Articles

Back to top button