Local news

Omgee-engele roer hartsnare

"Ek het nie woorde nie. Ek is nog te emosioneel."

Die voorsitter van die Bela-Bela Brandbeskermingsvereniging, Mel Meyer, het Woensdagoggend 11 Oktober, die land in trane gehad.

Meyer het op Jacaranda FM se program Good Morning Angels gesels oor die verwoestende brande wat die Mabalingwe-natuurreservaat en die omliggende oorde en plase onlangs in puin gelê het.


Lees ook: Mabalingwe en omgewing ‘n rampgebied


Die brandspanne het dae en nagte geveg om die erge vlamme wat bly opvlam en versprei het, te blus terwyl die gemeenskap hande gevat en gehelp het in dié tyd van nood. Die munisipaliteit het ná die vlammehel die gebied as rampomgewing verklaar.

Mel Meyer.

Martin Bester, die ontbytprogram se aanbieder, het Meyer vroegoggend gebel en hulle het onder meer gesels oor die planne om brande te voorkom en te bestry. Meyer het die omvang van die skade in die Waterberg op miljoene rande beraam. Hy het gesê die brand het nie net die veld vernietig nie, maar die hele ekosisteem wat sowat vyf jaar sal neem om te herstel.

Meyer het sy dank uitgespreek vir die skenkings van voer vir die diere wat vanoor die hele land ontvang is. Dit is egter nie voldoende nie omdat baie diere in die veld dragtig is en sekere voeding nou dringend nodig het.

Dit is bekend dat verskeie spesies in die Waterberg geboorte skenk in die dae nadat die eerste reën geval het. Besoekers is altyd verstom oor die groot aantal “babas” in die veld. Hierdie diere wat nou gaan geboorte skenk het nie net ru-voer nodig nie, maar ook vitamien verrykte kos om die embrios sterk te maak.

Lottoland het daarna R100 000 geskenk vir die bykomende voer wat nou dringend nodig is en Good Morning Angels het ook ruim bygedra met ’n verdere R100 000.

Meyer was oorstelp van vreugde en het die land se mense genooi om in die Waterberg te kom kuier en van die muis tot die olifante te kom waardeer.

Meyer het na afloop van die uitsending aan Die Pos gesê:

“Ek het nie woorde nie. Ek is nog te emosioneel.”

Hy het daarop gewys dat dit baie belangrik is om deel te word van die Brandbeskermingsvereniging om sodoende meer betrokke en georganiseerd te wees vir wanneer die brandseisoen aanbreek.


Lees ook:

Related Articles

Back to top button