Local news

Vleis, eiers dalk eersdaags skaarser as hoendertande

Die bedryf is reeds moeilik. As daar nie eiers is nie, is daar nie kuikens nie.

Met duur rooivleispryse is hoender en eiers ’n bekostigbare bron van proteïen in baie huishoudings.

Die landwye uitbreking van voëlgriep lei egter tot tekorte aan albei kommoditeite.

Plaaslik slaan die hoogs aansteeklike siekte ook hard. Vyf hoenderplase in die Waterberg-omgewing is deur die siekte geraak en twee miljoen hoenders moes landwyd vankant gemaak word om die verspreiding van die siekte te probeer stuit, het die DA vandeesweek in ’n mediaverklaring gesê. Van die werknemers se salarisse is ook glo met 25% verminder in ’n poging om kostes te sny.

Die eerste gevalle van die siekte is reeds in April elders in die land aangemeld. Dit is nie aansteeklik vir mense nie, maar die hele verskaffingsketting vir hoenders word geraak. Die beskikbaarheid van eiers is op hierdie stadium die opvallendste.

Volgens Chris van Rooyen van die Pick n Pay-groep in Modimolle het hulle steeds eiers in voorraad, maar nie noodwendig in al die groottes en verpakkings nie.

“Van ons verskaffers het reeds laat weet dat hulle nie voorraad soos gewoonlik kan lewer nie. Daar is gelukkig plase in ons streek wat nie geraak word deur die siekte nie en aan ons kan verskaf,” het hy gesê.

Hoewel daar nie voëlgriep op die plaas is nie, slaan die siekte almal in die bedryf hard, het ’n werknemer by een van die grootste plase vir slaghoenders in die lesersgebied gesê. Hulle verkies om anoniem te bly.

“Die bedryf is reeds moeilik en hierdie is ’n bykomende uitdaging. As daar nie eiers is nie, is daar nie kuikens nie. As daar nie kuikens is nie, is daar nie slaghoenders nie. Daar gaan ernstige tekorte in al die fases wees,” het hy gesê. “Die siekte raak meestal ouer hoenders en diegene wat slaghoenders bemark, word nie onmiddellik geraak nie. Ouer hoenders, soos lêhenne en broeipare, word geraak. Dit het tekorte aan eiers en kuikens tot gevolg.”

Linda Wepener van Bosveldsrus Abattoir buite Modimolle sê dat hulle nog nie gehoor het van boere in hul omgewing wat ’n uitbreking van die virus gehad het nie. Hulle het hul higiëne by die slagpale verder opgeskerp.

“Omdat ons nie so ’n groot boerdery is nie, is daar gelukkig nie baie mense naby ons hokke nie wat help om verspreiding te voorkom.”

Maatreëls wat reeds voor die uitbreking in plek was en op die meeste plase geld, is dat spesifieke stewels vir elke hok gebruik word, werkers gereeld ontsmet en dat niks van een hok na ’n ander geskuif word soos byvoorbeeld voerbakke nie. Die hokke is ook ver uit mekaar geleë.

Hulle is bekommerd daaroor dat die siekte die beskikbaarheid van dagoue kuikens kan beïnvloed, wat op sy beurt weer ’n tekort aan vleis kan veroorsaak.

Volgens die Suid-Afrikaanse Pluimveevereniging (Sapa) verwag hulle groter tekorte aan eiers en vleis in die volgende ses tot agt weke. Die hoender-industrie het aansoek gedoen om 10 miljoen bevrugte slaghoender eiers in te voer om op te maak vir die tekorte. Hulle verwag ook dat meer hoendervleis ingevoer sal word in aanloop tot die Desember-vakansiedae.

Related Articles

Back to top button