Local news

Mabalingwe-brand: Gemeenskap trek laer toe brand hand uitruk

"My verwagtinge is oortref toe ek kon ry met 300 etes wat reeds op my bakkie gelaai was."

“Wat my sal bybly, is die talle mense wat op een Whatsapp-boodskap van my gereageer het en kom saamstaan het om te help om die brand te blus.”

Só vertel Jeedee Cloete, Vryheidsfront Plus-raadslid, oor die brandblussery dié afgelope langnaweek wat mannemoed en hope deursettingsvermoë vereis het.

Cloete sê hy het deurgaans die versoeke en hulp wat gevra word, gekoördineer. Dit het verlede Sondag 24 September begin ná ’n oproep van Matie Barnard van die Mabalingwe-natuurreservaat.

Foto’s bo en onder: Van die meer as 50 huise wat in die slag gebly het.

“Ek het Sondagoggend om 10:30 ’n versoek op my groep geplaas om te sê ons benodig toebroodjies en energiedrankies om aan die brandbestryders te voorsien. Ek het gevra dat die skenkings voor 12:00 by my huis afgelewer word sodat ek dit na Mabalingwe kon neem. My stoutste verwagtinge is oortref toe ek om 12:00 kon ry met 300 etes wat reeds op my bakkie gelaai was,” het hy vertel.

“Daarna het sakeondernemings steeds hulp aangebied en personeellede het op ’n gereelde basis etes voorberei wat ons kon laai en gaan versprei. Sakelui het hul hande en harte oopgemaak. Ons het hamburgers, vetkoeke met vulsels, pasteie, toebroodjies en genoeg gebottelde water geskenk gekry om die brandbestryders te kon voorsien. Die mense van die dorp het aanhou gee. Maandagoggend het ons ’n besending van 80 sakke (12,5 kg) mieliemeel uit Settlers ontvang met die belofte as daar nog nodig is, laat weet net.”

Cloete vertel van die vroue het genoeg geld ingesamel om 200 herderspasteie te maak.

“Nóg ’n groot winkel het 50 pasteie geskenk. Ons het kratte vol koeldranke en só baie lekkergoed gekry om die manne wat vuurslaan se energievlakke te verhoog. Dit is vir my ’n riem onder die hart en terselfdertyd scary om te besef dat een oproep só baie hulp tot gevolg gehad het.”

Inwoners het tevergeefs baklei om die vlamme onder beheer te hou.

Hy het die mense se hartlikheid beleef, die goeie gees tussen hulle gesien en die hartseer en bekommernis gevoel oor die brand se vernietigende spoor.

“Daar was talle sakeondernemings se personeellede wat hul harte oopgemaak het en mense wat aangebied het om al die kos en drinkgoed te gaan haal en voor middernag op Mabalingwe en omgewing af te lewer. Dit wat oorgebly het, sal in die gemeenskap aangewend word waar daar nood is. Ek wil vir die mense hartlik dankie sê.”

Hy sê in ’n stadium het hy ’n boodskap gestuur om te sê daar word brandbestryders by Mabalingwe benodig en op die ou einde was daar sowat 200 mense wat gaan help het. Mense het vir my boodskappe gestuur soos: “Jeedee, ek het ’n bakkie met diesel, maar ek het nie ’n brandbestryder nie. Dan bel ’n vrywilliger en sê hy wil kom help om die brand te bestry, maar het nie vervoer nie. Dan het ons vinnig gekoördineer dat hy opgelaai word.”

Die opgeleide brandbestryders was van die Working on Fire-spanne en die ander brandbestryders was volgens hom “gewone mense wat hulp aangebied het”.

“Die dorp se mense het saamgetrek met hul bakkies, toerusting en water. Daar was ouens wat opgedaag het met ’n knapsak wat water ingehad het.”

Cloete sê hy onthou die brand by die Sondela-natuurreservaat in September 2012.

“Dit was groot en daar is mense dood. Hierdie brand was ook groot, maar die omvang was anders. Dit was oor ’n groter area waar dit maklik versprei het en die sterk wind het die vlamme aangejaag.”


Druk op skakel vir beeldmateriaal: https://fb.watch/nlf-05WD5c/

Related Articles

Back to top button