Local news

Gesin verloor alles in huisbrand

’n Huisbrand het binne enkele minute alles wat ’n jong gesin in Modimolle besit het, verwoes.

Die brand het op Sondagaand 24 September kort ná 20:00 in ’n slaapkamer van die huis in Stasiestraat ontstaan.

“Ons was besig om drinkwater reg te sit om vir die brandslaners by die Mabalingwe-reservaat te neem toe my dogtertjie vir my kom sê my vrou ruik iets brand,” het Stephan van Heerden gesê.

Sy vrou, Sumarie, was besig om hul eenjarige seuntjie, Evert, se doek te ruil.

“Die brand het in die kinders se kamer begin en binne oomblikke versprei,” het sy vertel. “Ons het dadelik uit die huis gehardloop, maar ons kon nie vir Anroux (3) opspoor nie en die vlamme het baie vinnig versprei. Ek het vir Evert, nog steeds so sonder ’n doek, in sy sussie (6) se arms gedruk en teruggehardloop huis toe.”

Stephan het onmiddellik die huis se kragtoevoer afgeskakel toe hulle besef die huis brand. Dit het die soektog na Anroux bemoeilik omdat alles donker was.

“Ons het hom uiteindelik in die waskamer, wat een van die laaste vertrekke was wat gebrand het, gekry. Ons vermoed hy het soontoe gevlug toe hy die vlamme sien,” het Sumarie gesê.

Binne ’n kwartier was die hele huis in ligte laaie. Hoewel die brandweer gou opgedaag het, kon niks meer gered word nie.

“Die vlamme was baie vinnig in die dak en het van daar versprei,” het Stephan gesê. “Behalwe vir al die nodige items, is alles waaraan ons sentiment gehad het, ook verbrand. Sumarie is baie hartseer oor die ou naaldwerkmasjien wat sy van haar ouma gekry het wat vernietig is. Sy het dit baie gebruik. Ons het ons drie kinders twee weke gelede laat doop. Ons is so dankbaar dat die drie Bybeltjies wat hulle ontvang het, niks oorgekom het nie behalwe dat dit vol roet is.”

Die Van Heerdens bedryf Baardman Bakkery waar hulle koekies bak vanuit ’n buitegebou op die erf.

“So baie mense uit die gemeenskap het ons gehelp en ons is so dankbaar daarvoor. Ons het beddens en beddegoed ontvang en baie klere. Mense het ook kontant gegee wat ons kon gebruik vir ’n deposito om ’n huis te huur. Ons kan die naweek intrek,” het Stephan gesê.

Niks van die gesin se elektriese toestelle of meubels het die brand oorleef nie.

“Ons is baie dankbaar dat nie een van ons seergekry het nie. Ons diere is ook almal veilig.”

Die gesin het ’n groot Deense hond, twee katte, makoue en verskeie Orpington-hoenders.
Hulle het die huis gehuur.

Related Articles

Back to top button