BusinessFinance Advice

Finansies: Beleggings: Maak seker (deel 1)

Daar bestaan ’n behoefte by lesers om meer te wete te kom oor beleggingsbeplanning.

Dit is natuurlik ’n baie gediversifiseerde onderwerp, veral gesien in die lig van voortdurende kansvatters in die markplek.

Dit is nodig om kennis te dra van die verskillende klasse van bates waarin u kan belê. ’n Mens moet ook weet watter beskikbare beleggingsinstrumente by elke bateklas aanwesig is.

Byvoorbeeld: Bateklas is kontant en die instrument is ’n spaarrekening by die bank.

Daar is vyf basiese bateklasse waarin u kan belê.

Kontant:
Hier word bedoel deposito’s wat u by ’n bankinstelling doen. Spaarrekeninge, vaste deposito’s van drie maande tot vyf jaar — sogenaamde kennisgewingdeposito’s by banke, is hier ter sprake asook geldmarkfondse by effektetrustmaatskappye. Dit is konserwatiewe beleggings met relatiewe lae risiko.

Effekte:
Dit is hoofsaaklik Suid-Afrikaanse kleinhandelstaatseffekte wat deur die regering uitgereik word teen ’n vaste koers. Dit is spaarobligasies om die publiek aan te moedig om te spaar. In effek leen die regering geld by u teen ’n vaste koers en kry u dit terug sodra die termyn verstryk het. Dit kan binne drie, vyf of tien jaar wees. Skuldbriewe is ook ’n vorm hiervan — ’n maatskappy reik dit uit. Kliënte leen die geld aan die maatskappy om bepaalde ontwikkelings te doen en dan word hulle aan die einde van die skuldbrief se termyn terugbetaal. Dit is vererfbaar. Dit kan nie deur u skuldeisers afgeneem word nie.

Vaste eiendom:
Dit behels dat mense in residensiële, industriële of kommersiële eiendom belê. Huurhuise, winkels, kantore en fabriekseiendom is ter sprake en kliënte verkry inkomste uit verhuring en heel moontlik ook kapitaalgroei, maar dit is langtermyn beleggings.

Aandele:
Kliënte koop aandele in privaat maatskappye wat op die aandelebeurs genoteer is of privaat ekwiteit deur direk in te koop by ’n ongenoteerde maatskappy. Maatskappye verkry sodoende kapitaal vir hul bedryfsuitgawes. Kliënte verkry die reg om in dividende te deel wat ’n inkomste bied. Gewone aandele word verdeel in sekere tipes soos “blou chip”, groei, inkomste en defensiewe aandele.

Harde bates:
Die aankoop van kuns soos skilderye en beeldhouwerke, muntversamelings, goud en goudmunte en Persiese tapyte, word belegging in harde bates genoem. Dit is nie maklik om te verhandel nie en ook moeilik om veilig te bewaar. Versekeringskoste kan ook hoog wees.

Wat van effektetrustfondse? Dit is waarvan baie in die media gepraat word as kanale waarin privaat beleggers belê vir hul aftrede of bloot net vir kapitaalgroei oor die langtermyn. ’n Mens kry letterlik so fonds vir elk van bogemelde bateklasse of in kombinasies daarvan (behalwe in harde bates).

Effektetrusts bied eenvoud van verspreiding tussen al die klasse en instrumente sonder dat kliënte baie navorsing moet doen. En dit is hier waar ’n gesertifiseerde finansiële adviseur (met ’n CFP-kwalifikasie) tot groot waarde kan wees in die beplanning vir aftrede en veral wat betref alle beleggings en korrekte implementering daarvan.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button