Local newsSchools

So onthou ons lesers toeka se matriekafskeid-dae

Verskeie skole in Die Pos se lesersgebied hou vandeesweek hul matriekafskeidsgesellighede — glansryk genoeg om Hollywood twee keer te laat kyk!

Ons het gaan aanklop by ’n paar inwoners om te hoor wat hul gunstelingherinneringe aan hul eie geleenthede was. Hulle is dit eens dat dit baie minder swierig was, maar dat die herinneringe eersteklas was.

Santie Gildenhuys.

Santie Gildenhuys:

Oud-onderwyser Santie Gildenhuys, daardie jare ’n nooi Van der Wal, onthou haar matriekafskeid in 1982 by Hoërskool Hans Strijdom duidelik. Dit was baie anders as vandag se matriekafskeidgesellighede.

“Ons het geen rooi tapyt gehad wat vir ons uitgerol is nie en niemand wat ons toegejuig het nie. Daar was nie blinkgepoleerde Lexus’e met ’n chauffeur soos my seun se afskeid in 2011 of perdekarre met hingste wat hul pote hoog optel soos met my dogter se afskeid in 2009 nie. Net die betroubare, roomkleuringe Toyota-skoolbus het ons ingewag.”

Hulle matriekafskeid is by die Stokkiesdraai-vakansieoord buite die ou Nylstroom gehou. Sy het ’n “geleende” metgesel, Rudolph (Pote) Botha gehad, want haar vaste kys was besig met diensplig.

“Almal het in 1981/82 aan Prinses Diana-manie gely. My bandjiesrok was geskoei op een van haar style met ’n los manteltjie en ’n hoë valletjieskraag. Ons het boerekos geëet en lekker gedans op die beste musiek van die 1980’s. Ons moes lank voor middernag weer terugklim in die luierende bus. Soet en sober. Dit was kosbare herinneringe op Mookgophong.”


Nicole Fourie en haar metgesel.

Nicole Fourie:

Nicky Fourie (neé Moolman), kampushoof van die Lephalale TVET College se Modimolle-tak, het in 1982 aan Hoërskool Randburg gematrikuleer.

“My ma het my rok gemaak. Ons het nie ’n tema vir die aand gehad nie en dit was ’n driegangmaaltyd met lekker boerekos. Daar was ’n platejoggie (DJ) wat plate gespeel het. Ons moes reeds om 22:30 uit die saal wees om huis toe te gaan. Diegene wat bestuurderslisensies gehad het, kon met hul motors gaan, maar ander is deur hul ouers afgelaai of het met die skoolbus na die geleentheid, wat by een van die sale by die Randse Afrikaanse Universiteit (nou UJ) gehou is, gery.”


Anneline du Preez.

Anneline du Preez:

“Ek en my ma moes tonne koeksister bak om my rok vir my matriekafskeid te laat maak. Ek onthou ’n pakkie koeksisters het R2,50 gekos en my rok was sowat R200. Ek was in 1984 in matriek in Hoërskool Dr. Malan in Meyerton. Ons afskeid het ’n Country-en-Western-tema gehad. My ligte appelkooskleur rok was van chiffon en ek het spoggerige goue sandale daarby gedra. Dit was ’n heerlike afskeid met ’n dans en lekker kos. Ek het so twee jaar daarna my rok verkoop vir dieselfde prys as waarvoor ek dit laat maak het.”


Esti du Plessis en haar metgesel in 1999.

Esti du Plessis:

Tandarts Esti du Plessis (toe Laubscher) van Modimolle sê die herinneringe aan hul groot aand raak effens vaag soos wat die tyd aanstap. Sy en haar matriekmetgesel, Adriaan du Plessis, het intussen die knoop deurgehaak en het vier kinders. Hulle het in 1999 aan Hoërskool Nylstroom gematrikuleer.

“Ons geselligheid is by die Klein Kariba-vakansieoord gehou en ons het met busse soontoe gery. Dit was die era van wye balrokke. Ons “big brag’-geleentheid, waar al die ouers en nuuskieriges kon kyk hoe ons gelyk het, is eers twee dae later gehou en ons het weer aangetrek en mooigemaak. Dit was baie soos ’n modeparade.”


Maria Oberholzer.

Maria Oberholzer (’n nooi Matthee):

“My matriekafskeid was op 15 Oktober 1985. Die uitnodiging, wat ek nou nog het, het gesê dit was ’n sigeuneraand in Vereeniging se stadsaal. Die drag was formeel. Ek het ’n roomkleurige aandrok wat my ma met liefde self gemaak het van sagte gordyn voile, gedra. Sy het die fynste goue detailwerk op die breë gordel geborduur. Daarby het goue skoene en ’n nuwe handsakkie die uitrusting afgerond. In daardie dae het ’n dame nog handskoene gedra by hul aanduitrustings. My metgesel daardie aand en ek het twee jaar later afgehaak en het twee pragtige kinders.”

Related Articles

Back to top button