Local news

Mabalingwe: Minstens 28 huise brand af, Thaba-pad versper

“Dit is chaos”

Meer as 28 huise in die Mabalingwe wildreservaat was teen Sondagaand in ligte laaie. Volgens ’n kennisgewing woed die verwoestende veldbrand nog in die Itaga-gebied, en het dit weer posgevat in Boekenhoutplaas en Elandsfontein. Roodepoort en Malebone is ook hierdeur geraak.

Die Thabazimbi-pad by De La Rey’s, naby die T-aansluiting, is afgesper vir verkeer.

“Die sigbaarheid is nou absoluut nul,” sê Jeedee Cloete, ’n VF+-raadslid van Bela-Bela

Na verwagting is minstens 13 000 ha deur vlamme verswelg.

“Dit is chaos,” sê Cloete. “Die wind is net teen ons, maar hier is soveel ouens hier.”

Die Pos het vroeër berig dat meer as 200 brandbestryders hand bysit. Twee helikopters is ook ingespan. Hoërskool Warmbad het hul hekke oopgemaak vir waterkarre.

’n Veldbrand wat gister, Saterdag 23 September, ontstaan het steek klaarblyklik agter hierdie wydverspreide vlammehel.

Miljoene rande se skade is aangerig en vakansiegangers moes inderhaas Sondagoggend die pad vat.

Teen vroegaan het dit geblyk of die leeus se kampe nie beskadig is nie, aldus Cloete. Hulp sal ook ingeroep word vir diere wat in die brand beseer is.

Volg Die Pos op Facebook vir die jongste verwikkelinge soos dit ontvou.


Hoe het hierdie brand jou geraak?

Stuur ’n brief aan dieposeditor@gmail.com en vertel hoe hierdie ramp jou geraak het. Lees Die Pos se omvattende verslag in volgende week se uitgawe.

Related Articles

Back to top button