Local news

Oorsig: Die land brand én spoel weg

Meer as 28 huise in die Mabalingwe wildreservaat was teen Sondagaand in ligte laaie.

Vanjaar word erfenisnaweek geken aan grootskaalse verwoesting. Twee uiterstes – vuur en water – het feestelikheid gedemper.

Hier in die Waterberge veg meer as 200 brandbestryders verbete teen ’n wegholbrand. Die Mabalingwe wildreservaat het erg deurgeloop en minstens 28 huise is beskadig. Teen Sondagmiddag het die brandlyn sowat 23km gestrek. Daar is ook brande by die Roodepoort-hoewes en Mbizi-woonwaoord aangemeld.

Net voor 22:00 het Jeedee Cloete, ’n VF+-raadslid van Bela-Bela, verneem dat Itaga-oord se huise alles afgebrand het. Hy het afgemat oor die foon geklink.

“Die vuur het gespring. Hy’s in Bonwa Phala se gebied in. Dis nag.”

Cloete sou teen 22:00 brandstof op die dorp vir sy motor kry waar inwoners kos en water kon afgee.

Beurtkrag word om 23:00 in Bela-Bela ingestel wat watertoevoer kan kniehalter. Verder het Cloete die burgemeester, Gloria Seleka, versoek om ’n ramptoestand af te kondig, en was ook in gesprek met rolspelers om nóg brandbestryders vanuit Pretoria in te roep.

In Pretoria is talle mense Saterdagaand dakloos gelaat ná ’n reusebrand in die Cemetery View-nedersetting. Na raming is 400 strukture vernietig. Dele van Noordwes het ook onlangs gebrand. In die Noord-Kaap het ligte reën gehelp om nóg brande onder beheer te bring. In die Wes-Kaap is daar hewige waarskuwings uitgereik vir fratsgolwe, vernietigende winde, donderstorms en kitsvloede.

Die Pos is nou vanlyn. Verslaggewing hervat weer Maandagoggend.


Hoe raak hierdie brand jou?
Stuur ’n brief aan dieposeditor@gmail.com en vertel hoe dié vlammehel jou geraak het.

Lees Die Pos se omvattende verslag in volgende week se uitgawe.

Related Articles

Back to top button