Local news

Vrou van Mookgophong steeds vermis

"Al wat ek vra is dat die Here my kind veilig sal terugbring.”

Marika Stoltz (31) van Mookgophong word al byna vyf maande vermis.

Sy het op Saterdag 22 April 2023 soos ’n groot speld uit die dorp verdwyn. Sy was ten tyde van haar verdwyning sowat vier maande swanger. Sy het blonde bruin hare en is gemiddeld gebou. Sy het ’n tatoeërmerk van ’n dolfyn op haar linkerarm.

Volgens inligting het Marika ’n grys bloes, swart broek en swart stewels gedra toe sy laas gesien is. Sy het vermoedelik in ’n rooi Tazz geklim en daarna spoorloos verdwyn.
Haar familie is rasend van bekommernis oor haar.

Volgens ’n persoon na aan die familie is elke leidraad deur die polisie en ’n privaat speurder opgevolg, maar sy is steeds weg.

“Daar is baie leidrade opgevolg en baie nuwe inligting het nou aan die lig gekom. Rodney van Rensburg, privaat speurder, ondersoek al die leidrade. Daar is egter mense wat inligting weerhou wat binnekort weer ondervra sal word,” het die anonieme persoon aan Die Pos gesê.

’n Facebook-groep met die naam “Help find Marika” is gestig waar daar vir hulp gevra word asook vir enige donasies of bydraes wat kan help. Die groep het sowat 1 300 lede. Daar word ook beplan om ’n fondsinsameling te hou om te help om die speurders wat aan die saak werk by te staan.

“Ek het elke dag kontak met my kind gehad. Sy het nie by my gewoon nie, maar by haar vriend. Daar word so baie dinge genoem dat ek self nie weet wat aangaan nie en ook nie antwoorde het daarop nie. Sy het die Donderdagaand voor haar verdwyning nog by my gekuier. Die Vrydag-oggend het ek haar weer gesien. Saterdagoggend teen 11:00 het ek haar geskakel en sy het bevestig dat sy die betrokke naweek by my sou oorslaap. Teen 12:00 het ons weer kontak gehad. Die laaste wat ek van haar gehoor het, was die Saterdagmiddag toe sy om 12:50 per SMS laat weet het dat sy op pad is na my toe. Haar foon is van toe af afgeskakel,” het haar ma, Rita Reid, op haar Facebook-blad geskryf.

“Ek dink nie Marika sal dit ooit aan haar kinders doen nie en sy sou ook met my kontak maak indien sy kan. Marika is ’n baie privaat persoon. Al wat ek vra is dat die Here my kind veilig sal terugbring.”

Weldoeners het aangebied om op Vrydag 29 September ’n veiling te hou om die speurder, wat tans sy diens gratis verskaf, te help met vervoer, tolhekgeld en ander uitgawes. Die organiseerder hiervan, Drieka Denysschen (078 8294 662) vra vir enige items wat geskenk kan word vir die veiling.

“Die familie wil ook vir Janet Neethling en Theuns Nel bedank vir die gratis verblyf wat hulle aan die speurder verskaf het terwyl hy in die dorp was,” het Hannelie Nieuwenhuys, een van die soekspanlede, gesê.

Enige sakeondernemings wat skenkings maak sal erkenning ontvang via die groep Help Find Marika se administratiewe afdeling op sosiale media. Mense met inligting oor waar Marika haar bevind of wat met haar gebeur het, word gevra om die ondersoekbeampte by tel. 082 5658 299 /082 4430 911 te kontak.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button