Local news

Duisend manne haal hul knipmesse uit

Om ’n braaivleis te hou is deel van ons kultuur en in die Waterberg as die manne wil braai, dan braai hulle!

Die Nederduitse Hervormde Kerk van Roedtan het weer op Saterdag 15 September’n suksesvolle knipmesbraai gehou om die kerk se koffers te versterk.

Volgens ds. Frans Marais, leraar van die gemeente, is die braai vanjaar vir die vyfde keer aangebied. Dit is op Roedtan-Suid-boerevereniging se grond gehou.

“Nuwe ontwikkelings is aangebring om die groot aantal gaste te akkommodeer. Die nuwe spreiligte en die rioolstelsel wat vergroot is, is ’n groot bate vir groter byeenkomste wat in die toekoms daar aangebied word. Die geld sal aangewend word in belang van die gemeenskap wat ons dien,” het hy gesê.

Ongeveer 1 000 manne het vanjaar by die knipmes-braai byeengekom en daar was selfs nog gaste wat op die waglys was. Daar was 34 skape en ses varke op ’n spit gebraai. Die bekende “stroperbraaier” wat nege skape op ’n slag braai, is weer gebruik en ’n lang braaier wat 19 skape kon braai, is ingespan om genoeg vleis te braai. Saam met die lekker braaivleis was daar ook uie en knoffel aartappels op die spyskaart. Elke man het by aankoms ’n knipmes en ’n glas gekry.

’n Duisend manne met knipmesse in die hand was waarlik iets om te beskou.

“By hierdie braai sit jy nie aan ’n tafel nie, maar jy loop van braaier tot braaier en kies watter vleisie jy wil eet,” het Marais gesê.

Daar was verskeie uitstallers van Mokopane, Groblersdal en Mookgophong. Later die aand is ’n veiling gehou van skenkings wat ontvang is en dit het ’n stewige bydrae opgelewer.

Marais het die hoofborg, wat ’n groep van Nasionale Boeremakelaars is, en hulle verteenwoordigers in die omgewing, Hendrik de Swardt en Flippie de Beer, bedank vir hulle bydrae.

“Ons kon die meeste van ons uitgawes dek en ’n wins vir die kerk maak. Ek wil ook graag al die naburige gemeentes en organisasies bedank vir die tafels, stoele en ander toerusting wat goedgunstiglik vir ons geleen is,” het hy gesê.

Hardus de Beer van Roedtan was die hooforganiseerder en het ’n groot groep manne en vroue gehad wat gehelp het met die logistieke reëlings en voorbereiding.

Related Articles

Back to top button