Local news

Verskeie projekte in Mookgopong afgehandel

Die inwoners, vrywilligers, AfriForum, wyksraadslede en verskeie sakemanne in Mookgophong het die afgelope tyd baie gedoen en groot bydraes gemaak om die dorp te verbeter.

“Dit is ooglopend ’n groot verbetering en ’n mens kan nie anders as om trots te voel op so ’n gemeenskap nie,” het Wyksraadslid, Marita Louw gesê.

Volgens Louw is daar reeds 55 stoptekens en nuwe lyne op die teervlak geverf en nog 56 moet gedoen word. Bydraes vanuit die gemeenskap het dit moontlik gemaak om die projek wat tans reeds R27 500 beloop van stapel te stuur. Sy het aan Die Pos gesê dat daar ook reeds 35 stoptekens met pale en borde vervang is en die projek staan op R37 650. Die dorp spog ook nou met hulle eie “stop” stensil wat geskenk en gemaak is vir R4 000.

Nog ’n geslaagde projek was die skoon maak van die Frikkie Geyser-dam waar vrywilligers die gras gesny het met die hulp van die CWP-werkers.

’n Plaaslike weldoener het ook die droë bome, wat ’n wesenlike gevaar ingehou het in 4de Straat en op ander plekke in die sakegebied gesny en verwyder. Hierdie projek se waarde is ongeveer R12 000. Skenkers het ook R10 000 geskenk om die brug na Roedtan skoon te maak en die sig te verbeter.

In nog ’n projek wat bykans R25 000 kos, is al die strate se vullis verwyder en 1 000 swart vullissakke en vyf bokse handskoene is gebruik om dit suksesvol te doen. ’n Ander inwoner het op eie koste die stormwater afvoersloot by OK Express skoongemaak en gesorg dat die kanaal weer vloei. Die munisipaliteit belowe al 12 maande om daaraan aandag te gee.

Die Buffalo-myn het ook met bydraes van bekende sakepersone in die dorp, die stortingsterrein skoon gemaak. Die koste van die werk wat tot dusver gedoen is word op R60 000 beraam.

Louw beplan ’n fondsinsamelingsprojek op Saterdag 11 November. Die fondse wat gegenereer word sal aan die vrywilligers wat altyd help vuurslaan en die persone wat op eie koste patrollies ry om die inwoners te beveilig, bewillig word. Die funksie beloof om ’n lekker opskop by Trados Lodge te wees.

Louw het ook al die komiteelede bedank vir hulle onbaatsugtige hulp om elke projek ’n sukses te maak.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button