Local news

Sit jou voet neer, sê Lindie Strydom

"Grondgebied is elke plek waar ons as God se kinders ons voet neersit."

“Ek wil nie die dancing space wat ek volstaan groter maak nie, eerder dieper. Ek wil met impak leef, want op die ou einde kan ons ’n yslike lap aarde hê en dit is onvrugbaar.”

Só het Lindie Strydom, bekende televisiepersoonlikheid, getuienis gelewer en ’n volgepakte kerksaal se gaste op Saterdag 16 September geïnspireer. Strydom is landwyd betrokke by verskeie gemeenskapsprojekte.

Sy het by die NG Gemeente Waterberg in Modimolle gesels oor hoe om jou grondgebied suksesvol vol te staan en na stories verwys wat sy in haar handel en wandel teëgekom het.

Reta Lombaard, Lindie Strydom en Wilna van den Heever.

“Ek as ’n waarnemer kyk wat om my aangaan en as aktrise let ek op en dan gee ek dit weer. Ek kyk om my rond en sien waar God aan die werk is en waar ek Sy hand in mense se lewens sien en dan skryf ek iets daaroor. Ek versamel stories van mense en hul dinge. Vanoggend is die tema Daag op.”

Strydom het vertel sy het een nag wakker geword met die frase dancing space in haar kop en verwys na die rolprent Dirty Dancing waar een van die spelers sê: “Nobody puts Baby in the corner” en ’n ander “This is my dancing space and that is your dancing space”.

Sy meen in Christentaal verwoord sal dancing space die plek wees wat jy volstaan.

“Die plek wat jy vol dans, jou grondgebied soos wat Jabes dit aan ons in sy gebed bekend gemaak het.”

Strydom sê sy het egter nie gebid vir meer of ’n groter grondgebied nie; eerder dieper.

“Ek het geleer dat grondgebied nie beperk is tot waar ek bly of werk nie; grondgebied is eintlik elke plek waar ons as God se kinders ons voet neersit.”

Sy het vyf stories van plekke waar sy was en gesien het hoe mense hul grondgebied volstaan en selfs met vreugde dans met die gehoor gedeel. Menslikheid in ’n veranderende wêreld het haar bygebly; so ook respek.

In een van haar vertellings het sy gedeel watter belangrike rol opvoeders in kinders se lewens speel en in ’n ander storie van ’n armmoedige gemeenskap wat in huise wat met plastiek gebou is, woon waar kos min is en die vrywillige mededeelsaamheid tussen die inwoners ’n mens verstom.

Sy het afgesluit met hoe belangrik dit is om op te daag en daar te wees.

“Vanoggend het ek agtergekom my sandale se een bandjie is stukkend; nou staan ek hier in my tekkies. Ek het opgedaag.”

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button