Local newsMunicipal

Rou riool kniehalter Sonskyndorp

“Die riool stroom vanaf al die uithoeke die dorp binne. Ek het verlede week met ’n hommeltuig (drone) vanuit die lug ondersoek ingestel en dit is skokkend om te sien hoe die riool die dorp en omgewing besoedel. Drastiese ingryping is nodig.”

Die water wat deur Bela-Bela vloei is allesbehalwe strome van seën.

Dié pragtige toeristedorp is eintlik kniediep in die spreekwoordelike bollie.

Só vertel Jee Dee Cloete, VF Plus-raadslids vir Wyk 1, oor die meer as 7 km rou riool wat langs die R101 vloei en ook ander dele van die dorp en omgewing besmet.

Riool stoot by elke gaping en kraak uit.

Cloete sê die munisipaliteit het uiteindelik daadwerklik begin optree om hierdie probleem aan te spreek.

“Die riool stroom vanaf al die uithoeke — die R101-ingang vanaf Klein-Kariba, Settlers en die R101 vanaf Radium — die dorp binne. Ek het verlede week met ’n hommeltuig (drone) vanuit die lug ondersoek ingestel en dit is skokkend om te sien hoe die riool die dorp en omgewing besoedel. Drastiese ingryping is nodig.”

Dit is kommerwekkend dat die inwoners van die township daagliks deur die riool moet ploeter om by hul bestemmings uit te kom. Met cholera wat onlangs in ons nabye omgewing aangemeld is, is die besmette water ’n kopseer.

Op hierdie lugfoto kan duidelik gesien word hoe riool besig is om Bela-Bela te ‘verteer’.

Volgens Cloete is daar ook wildsplase en besproeingsdamme wat deur die riool geraak kan word en hy is reeds in kontak met van die eienaars om onafhanklike watertoetse te laat doen.

Hy sê die dorp het verskeie pompstasies en daar is drie wat dringend aandag moet kry. Die onderhoudswerk het agterweë gebly en het nou krisisafmetings bereik. Van die stasies het nie genoeg pompe nie. Enkele van die pompe sal ook dringend vervang moet word. Hy is van mening dat kontrakteurs voortaan aanspreeklik gehou moet word vir swak werk.

“Dit help nie ons herstel die pompe en los die riool in die riviere en strome nie. Daar sal ’n rehabilitasieproses gevolg moet word om die probleem in geheel op te los.”

Cloete sê Wyk1 se komitee het reeds ’n aksieplan aan die munisipaliteit deurgegee en daar word ook tans met ’n regspan gesprek gevoer oor aanspreeklikheid.

Cloete het kort voor druktyd aan Die Pos bevestig dat die munisipaliteit met die volgehoue druk van die VF Plus begin het om die probleem aan te spreek.

“Al drie pompstasies se pompe is reeds getrek en sommige is al herstel en dele daarvan vervang. Die riool wat in die rivier geloop het, is gekeer nadat die munisipale bestuurder dringend ingegryp het.”

Cloete sê dat hy op Vrydagaand 8 September en Saterdag 9 September gedurende die dag met die spanne in verbinding was.

“Die hoof-rioollyn wat beskadig is deur ’n kontrakteur is intussen herstel en daar kan nou weer deur die lyn riool gepomp word na die aanleg.”

Hy sê die aanleg se opgradering het redelik goed verloop en dat riool wat wel by die aanleg uitkom, behandel word en tans op ’n 70% minimum vereiste is.

Die Pos het navrae aan Peter Moloto, die munisipaliteit se woordvoerder, gerig, maar teen druktyd nog nie ’n antwoord ontvang nie.

Related Articles

Back to top button