Local newsMunicipal

Bela-Bela-inwoners STEEDS keelvol!

Die Pos het 18 maande gelede in ons uitgawe 4 Februarie-uitgawe 2022 drie bladsye vol foto’s geplaas van diensleweringsprobleme wat herhaaldelik (sommiges daarvan jare lank al) in Bela-Bela aangemeld word.

Ons het die foto’s aan Kabelo Mosito, toe die munisipale woordvoerder, getoon en hy het hart en mond aan ons joernalis, Andries van der Heyde, beloof dat hy dié probleme “met sy afdelingshoof sal opneem”.

Kabelo het hom intussen by die Waterberg-distriksmunisipaliteit aangesluit en Andries het die dorp se nuwe DA-raadslid geword.

Die Pos wou vandeesweek by hóm hoor: Wat het geword van al hierdie probleme?

Volgens Andries is ’n hele paar van die destydse probleme intussen herstel, maar hy het onderneem om seker te maak dat hierdie klagtes wéér onder die munisipaliteit se aandag gebring word. Hy het inwoners aangemoedig om aan te hou om hierdie sake aan te meld.

Die Pos het vir Andries van der Heyde, Bela-Bela se nuwe DA-raadslid, gepols oor hoekom daar nog steeds soveel onopgeloste munisipale struktuurprobleme in die dorp is. Hier is sy antwoord:

“Ek het reeds met George Ramagaga, munisipale bestuurder, gepraat oor die haglike toestand waarin die dorp se straatligte verkeer. Volgens hom wag hulle op die nodige komponente om die straatligte te herstel. Thabang Khotsokoane (waarnemende hoof van tegniese dienste) en Thomas Pilane (hoof oor paaie en stormwater) het gesê “prosesse” is aan die gang gesit om sekere kragbokse in die dorp te vervang. Pilane het ook aangedui dat hulle aandag sal gee aan van die probleme met stormwaterinfrastruktuur. Jimmy Moloto (hoof oor die dorp se riool en watersake) se afdeling is baie aktief en reageer op die meeste klagtes. Daar is sover my kennis strek steeds ’n tekort aan bekwame werkers en toerusting om sekere take uit te voer. Die munisipaliteit wag ook op die finalisering van die nuwe vlootkontrak.”

Met dié kommentaar ingedagte het Die Pos self ’n draai deur die dorp gaan ry om te kyk wat geword het van die plekke waar ons 18 maande gelede hierdie foto’s geneem het:

Lunaweg, waarin talle sakeondernemings, ’n kerk en ouetehuis geleë is, se slaggate was jare lank ’n nagmerrie vir motorryers én voetgangers. Dié straat het nou ’n nuwe teerlaag gekry danksy ’n projek van die Limpopo-padagentskap (RAL).
Die drade hang nog steeds by hierdie straatligpaal in Robertsonweg uit en die kragbokse in dié straat is steeds erg verrinneweer.
Die waterkraan op die hoek van Karee- en Huilboslaan het jare lank gelek, maar is intussen herstel.
Die slote op die hoek van Robertsonstraat en Kretzschmarlaan is intussen herstel en met teer bedek.
Die lekplek op die hoek van Reitzstraat en Gilfillanlaan is herstel, maar die gat is steeds nie toegegooi nie en die straatnaambord is nog steeds weg.
Dié lamppaal in die openbare parkie, in Rooibosstraat is herhaalde kere aangemeld, maar staan steeds só windskeef.
Die rioollekplek op die hoek van Huilboslaan en Apiesdoringlaan is herstel, maar die diep gat wat op die sypaadjie gegrawe is, is steeds daar.
Die sinkgat op die hoek van Minnaarweg en Moffatstraat (oorkant Die Pos se kantoor) wat ontstaan het toe ’n vragmotor ’n stormwaterpyp stukkend gery het, is intussen herstel.
Die Reitzstraatparkie, waar haweloses oornag en morsjorse luidkeels partytjie gehou het, word deesdae deur AfriForum in stand gehou.
Die oop kragboks in Chris Haniweg lyk steeds gehawend.
Dié groot slaggat in Pretoriaweg (naby die Bela-Bela-landdroshof) is intussen herstel, maar nou is dit Hospitaalstraat, aan die agterkant van die landdroshof, wat soos ’n pokke-slagoffer lyk.
Die kragbokse in Kretszcmarlaan is steeds gehawend.
Stukkende straatligte is steeds aan die orde van die dag (eintlik aan die orde van die nág!) in Bela-Bela. Dié een in Kretszcmarlaan is steeds so dood soos ’n mossie.
Dié mangat oorkant Hassims in Chris Haniweg in die hoofstraat is maar een van vele wat volgens die munisipaliteit “binnekort herstel sal word.”
Die sypaadjieplaveisel voor die NTK in Kretszcmarlaan is steeds ontsettend ongelyk met hier en daar boonop afgekapte boomstompe in die sypaadjie.
Die stortingsprobleem in Lunaweg naby die Warmbad Rusoord-ouetehuis is steeds nie opgelos nie. Net soos by die toegangspad na die ou Warmbad-gholfbaan, stort mense steeds hier onwettig rommel en word daar nie gepoog om dit op te ruim nie.
Die hoek van Kretszcmarlaan en Thabo Mbekiweg oorkant Hassims Supply Store, is steeds sonder ’n naambord en boonop werk die robot by hierdie besige kruising lankal nie meer nie.
Die rioolaanleg in Flamboyantstraat lek nie meer nie. Die rioolstasie is egter toegegroei met riete en daar lê orals vullis rond.
Hierdie straatlig in Mentzlaan se liggie skyn lankal nie meer nie.
Die gevaarlike mangat reg oorkant die munisipaliteit is intussen herstel.
Om oor Bela-Bela se rondlopervee te kla, is ’n nuttelose poging — niemand doen iets daaraan nie. Inteendeel, dit is nie meer net die beeste wat die tuine verniel nie; bokke, skape en donkies veroorsaak die afgelope jaar talle ongelukke op die dorp se toegangsroetes.

Related Articles

Back to top button