BusinessFinance Advice

Finansies: Beleggings: Wat jy moet weet – deel 5

Beleggers kan deur deeglike beplanning in samewerking met hul finansiële adviseur groot waarde put deur van hierdie beleggingsroete gebruik te maak.

Inkomstebelasting is ter sprake by alle bateklasse, naamlik wat kontant en effekte betref, moet ’n mens belasting betaal op rente wat jy ontvang.

Vaste eiendom se huurinkomste is belasbaar, maar jy kan sekere uitgawes aftrek. Op aandele word dividende verklaar en die maatskappy wat so ’n verklaring doen, moet ingevolge wetgewing belasting teen 20% daarop terughou. Verder is kapitaalwinsbelasting betaalbaar op vaste eiendomsbeleggings en aandele wanneer daar ’n kapitaalwins gemaak is op die aanvanklike bedrag wat belê is.

Dit is baie belangrik dat beleggers seker maak wat die belasting-implikasie daarop is, want die netto-effek ná aftrekking van belasting is gewis die werklike groei wat jy kry. Dit het dus ’n invloed op jou beleggingskeuse.

Effektetrustfondse:

Dit word ook groeifondse genoem en bestaan uit een, meer of al die bateklasse wat beskikbaar is, en wel in die vorm van eenhede of onderaandele. Dit word deur ’n fondsbestuurder bestuur wat saam met sy span op die samestelling daarvan besluit. Effektetrustfondse maak sake baie eenvoudig vir die gewone belegger wat ook in aandele wil belê.

Die risiko is kleiner as in direkte spekulasie op die aandelemark. Fondsbestuurders doen deeglike navorsing aangesien hierdie kanaal steeds uitgelewer is aan die ekonomie en bewegings op die markte.

Die groot voordeel vir die gewone belegger is die feit dat daar talle fondse is waaruit gekies kan word waarin kontant, effekte, vaste eiendom en aandele belê kan word. Die belegger moet net met behulp van ’n adviseur vasstel oor watter termyne hy of sy geld sal benodig en hoeveel.

Deur deeglik te beplan kan die adviseur dan ’n behoorlike verspreiding op grond van termyn, risiko, likiditeitsbehoeftes en geografiese verspreiding doen.

Die belegger verkry dus al die voordele van elke bateklas, maar teen verminderde risiko en koste.

Die fondsbestuurder koop byvoorbeeld aandele vir die fonds onderworpe aan regulasies waaraan hulle moet voldoen en dit verleen outomaties beskerming wat institusionele risiko betref.

Die belegger het bitter min om te administreer en ontvang gereeld of op aanvraag ’n beleggingstaat wat die stand van sy portefeulje met alle geopenbaard inligting toon. Inkomste word ook gerieflik uit so ’n fonds onttrek of net so kan nuwe beleggings daarin bygevoeg word.

Plaaslike en buitelandse fondse is beskikbaar.

Beleggers kan deur deeglike beplanning in samewerking met hul finansiële adviseur (verkieslik ’n gesertifiseerde finansiële beplanner) groot waarde put deur van hierdie beleggingsroete gebruik te maak.

Onthou ook dat effektetrustfondse gebruik word by uittree-annuïteite, bewaringsfondse, lewende annuïteite en ook by vrywillige beleggingsprodukte.

Dit bied buigsaamheid, diversifikasie, gerieflike administrasie en lae koste en is veral nuttige instrumente vir mense wat aftree.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button