Crime

Vrou oorleef aanval op plaas

"Ek sal nooit die klikgeluid vergeet van die wapen wat hulle herhaaldelik oorhaal terwyl hulle dreig om my dood te maak nie."

Moet my net nie doodmaak nie!

Dit is die benoude gedagte wat deur Janet Prinsloo (53) se kop gemaal het toe twee mans haar op haar plaas buite Vaalwater oorval en aangerand het.

Prinsloo het op Woensdag 23 Augustus net ná 17:00 teruggekeer huis toe van haar padstal, die bekende Biltong Go Back op die R33 tussen Vaalwater en Lephalale toe die mans onverwags om die hoek van die huis verskyn en haar met ’n koevoet teen die kop geslaan het.

Janet Prinsloo van Vaalwater is ernstig beseer ná sy deur twee mans oorval en aangerand is.

“Ek was op pad van die huis af om my kwaai Amerikaanse veghond (pitboel), Dino, se hok oop te maak sodat hy kon uitkom toe ek die mans om die hoek sien kom. As ek nie gekoes het nie, het hulle my doodgeslaan met daardie yster,” het sy aan Die Pos gesê.

In die tyd wat gevolg het, het Prinsloo groot trauma beleef.

“Ek het my bewussyn vir omtrent 20 minute verloor nadat hulle my geslaan het. Hulle het my in my kamer gesleep en vasgebind. Die mans was op soek na die geld wat ek gewoonlik van die winkel af bring, maar ek het dit daardie dag by die winkel vergeet,” het sy vertel. “Hulle het ’n sak oor my kop getrek en kort-kort ’n mes teen my keel gedruk om te hoor waar die geld is. Ek sal nooit die klikgeluid vergeet van die wapen wat hulle herhaaldelik oorhaal terwyl hulle dreig om my dood te maak nie.”

Prinsloo se familie woon al amper ’n eeu op die plaas.

“Ek is tans só in skok dat ek dit oorweeg om te verkoop.”

Haar seun Jakobus was die dag by ’n kursus om solarstelsels te installeer. Prinsloo vertel dat sy gedink het dit is verby toe hulle haar toerol in ’n kombers.

“Ek was bang hulle gaan my doodmaak of oplaai en wegry met my.”

Nadat die mans weg is, kon Prinsloo daarin slaag om haar voete los te wikkel en die lappe wat in haar mond gedruk is uitkry, maar haar hande was nog vasgebind.

“Ek kon hoor hoe hulle aan die bakkie karring en het dit oorweeg om my hond te gaan oopmaak, maar was te bang hulle kom terug.”

Sy het later die kamervenster met haar mond oopgemaak gekry en het met haar hande steeds vasgebind, daardeur geklim. Sy het die 300 m na die werkers se huise gehardloop vir hulp.

Die polisie en lede van die Heritage Protection Group (HPG) het reageer. Hulle het Prinsloo se bakkie en ’n jaggeweer net meer as ’n kilometer van die huis gevind.

“Ek is so vinnig daar weg, dat ek nie eens weet wat hulle alles gesteel het nie.”

Prinsloo gaan tans by familielede tuis.

Prinsloo sê sy hoop hierdie voorval laat mense in die omgewing net weer besef hoe maklik so ’n aanval kan gebeur.

“Ek wil net hê ander mense moet ook nou meer paraat wees. Ek is nie seker of dit enigsins sou gehelp het as ek ’n wapen by my gehad het nie, of selfs ’n paniekknoppie wat aan ’n alarm verbind is nie. Miskien sou kameras wat die huis dophou van hulp gewees het. As ek daaraan terugdink moes ek nie eens in die huis ingegaan het nie, maar heel eerste my hond gaan oopmaak het,” het sy gesê.

Prinsloo het gesê dat sy voorheen al die gevoel gekry het dat iemand haar dophou wanneer sy by die winkel is.

Die Pos het in Maart 2015 berig hoe Prinsloo deur ’n 4 m-lange luislang in haar slaapkamer oorval is.

“Jy sal nie glo nie — dit was alweer in dieselfde kamer.”

Die slang was onder haar bed en het haar aan die enkel beetgekry. ’n Bed se poot het destyds verhinder dat hy sy lyf om haar kry.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button