Crime

Verdagtes vra dat moordsaak van die rol geskrap moet word

Die beskuldigdes in die moordsaak van Nicky Janse van Rensburg (35) van Roedtan, wat op 7 Oktober 2022 aangeval en vermoor is, het weer op Maandag 21 Augustus in die hof in Mookgophong verskyn.

Die vier verdagtes, Albert Mangena (33), Malesela Mangena (35), Lesiba Solly Segwale en Morwantsiri Justice Mashiane (32) se regsverteenwoordiger het versoek dat die saak van die rol geskrap word, omdat die staat volgens hom nie oor genoeg bewyse beskik het om met die saak voort te gaan nie.

Die hof het egter verdaag weens ’n kragonderbreking en die saak is uitgestel na Donderdag 24 Augustus.

“Die Vryheidsfront Plus (VF Plus) het ná die hofverrigtinge die polisie se Waterberg- distrikskommissaris, genl.maj. Dikeledi Rebecca Mangena, versoek om te verseker dat die saak deeglik ondersoek word en enige uitstaande bewyse aan die staatsaanklaer voorsien word,” het Marcelle Maritz, provinsiale leier van die VF Plus, in ’n mediaverklaring gesê.

Nadat die staat en die verdediging hul sake gestel het, het die landdros die saak uitgestel tot Dinsdag 5 September op voorwaarde dat die staat die dossier opsom en ’n hooggeregshofdatum voorsien word.

Een van die beskuldigdes se regsverteenwoordiger het kapsie gemaak omdat die brief van die direkteur van openbare vervolging per e-pos gestuur is en nie die oorspronklike dokument is nie.

Die beswaar is egter van die hand gewys omdat die wet glo nie die gebruik van elektroniese korrespondensie verbied nie.

Die ondersoekwerk moet by die volgende hofverskyning op 5 September voorgelê word. Die verdediging het dié beslissing sterk teengestaan.

’n Datum vir die saak om voor die hooggeregshof te dien, is later deur die staat gebring en die beskuldigdes sal van 27 Mei tot 7 Junie 2024 in die hof in Polokwane verskyn.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button