Local news

Werktuigkundige sterf in ongeluk

’n Gerespekteerde motorwerktuigkundige van Bela-Bela, Gert van der Schyff, het op Donderdag 17 Augustus gesterf nadat hy buite die dorp in ’n motorfietsongeluk betrokke was.

’n Gerespekteerde motorwerktuigkundige van Bela-Bela, Gert van der Schyff, het op Donderdag 17 Augustus gesterf nadat hy buite die dorp in ’n motorfietsongeluk betrokke was.

Hy was die eienaar van G-Force Technicians-paneelkloppers in die dorp.

Volgens lt. kol. Annemarie Smith, Bela-Bela-speurtakhoof, het daar klaarblyklik ’n bakkie tussen Bosveld Diesel en die nuwe ingang na die Bela-Bela-township ’n U-draai gemaak. Van der Schyff was op sy motorfiets op pad terug na Bela-Bela toe die bakkie voor hom ingedraai het. Hy is op die toneel dood verklaar, sê Smith.

Die polisie ondersoek ’n saak van strafbare manslag, maar niemand is tot dusver in hegtenis geneem nie.

Sy familie is erg geskok en probeer sy dood verwerk.

Volgens sy vrou, Jolene, met wie hy 18 jaar getroud was, het sy lewenspad ’n paar opdraandes gehad, maar het hy uit elke omstandigheid nuwe horisonne nagejaag.

“Hy het werklik baie bereik — van ’n werker by die Sun Courier-maatskappy, toe nagskofbestuurder by Engen 1-Stop voordat hy sy eie sakeonderneming op die been gebring het. Hy het ’n koninkryk vir ons kinders gelos,” vertel sy.

“Ek onthou nog hoe ons op ’n tyd wasgoed met die hand moes was en eers later in ons huwelik ’n wasmasjien kon bekostig. Dit was vir hom belangrik om vir ons ’n beter toekoms te skep. Ons het ’n Volkswagen-kewer sonder padwaardigheidsertifikate gekoop en Gert het hom opgebou tot ’n funksionele bakkie wat baie aandag getrek het. Saam, het ons trappie vir trappie geklim.”

Van der Schyff het in die Modimolle- en Bela-Bela-omgewing grootgeword. Hy het skool op 16 verlaat en het sy volwasse lewe as winkelklerk begin.

Later het hy belangstelling getoon in die herstel van voertuie en het hy homself in Nigel as ’n passer-en-draaier bekwaam. Hy het sy kwalifikasie as motorwerktuigkundige in 2015 behaal en hy en sy vrou het G-Force daarna begin.

“Ek en hy het in die beginjare saam ratkaste uitgehaal wat hy herstel het. Ons kon eers later personeel aanstel om te help met die werk wat meer geword het. Ons oudste seun, Armand, werk reeds drie jaar lank in die onderneming en ons jongste, Gerhard, help tydens skoolvakansies uit.” “Ons was soos vinkel en koljander — oral en altyd saam. Ons twee kinders was werklik hul pa se regter- en linkerhand. Ons gesin is baie geheg aanmekaar. Dit is steeds baie swaar om te verwerk dat hy nie meer by ons is nie.”

Sy gesin onthou hom as ’n streng, dog regverdige man en pa. Altyd eerlik, ’n man met ’n plan, en ’n man wat naby God geleef het, vertel Jolene.

’n Jarelange vriend van hom onthou hom vir sy “magic touch” met voertuie. Hy was altyd gereed vir bietjie vrolikheid.

“Hy was doelgerig om ’n beter lewe vir hom en sy gesin te skep. Hy was vriendelik en het mense aangetrek. Sy brein was vlymskerp en sy hande was altyd gereed om te help. Hy kon uit niks iets skep,” vertel die vriend. “Vir sy vriende was hy altyd daar; ongeag die tyd van die dag of nag. Hy het daarna gestreef om almal gelukkig te hou en baie druk op homself geplaas. Hy het ’n sagte plek vir mense in nood gehad en nie gehuiwer om hulp te verleen nie. Ons koester kosbare herinneringe van die goeie tye saam met Gert.”

Daar was teen druktyd nog geen begrafnisreëlings bekend nie.

Van der Schyff laat sy vrou, Jolene, sy seuns Armand en Gerhard; sy ouers, Rika en Willie, susters Liezel en Mariëtte, en broer Nici agter. Hy was ’n familieman by uitstek en sy neefs en niggies was ook sy vriende. Die motorfietsryers van die dorp het gesê hy was ’n gewaardeerde lid van hulle klub.

Sy familie bedank almal vir die talle oproepe en boodskappe van meelewing, asook die paramedici wat op die ongelukstoneel gehelp het en Mohammed Desai van DIY vir sy bystand op die toneel.

Related Articles

Back to top button