Municipal

Brandweerdienste oneffektief, sê raadslid

Vyf staatsvoertuie is vernietig en drie het brandskade opgedoen in die brand wat verlede week twee ondernemings in Modimolle vernietig het.

Die brand het op Woensdag 16 Augustus uitgebreek in die gebou waaruit Nyl Uitlate en Tukitech sake doen.

Die oorsaak van die brand is steeds nie bekend nie. Volgens AO Pieter Booyse van die Modimolle-polisie sal die polisie se verslag binne 90 dae afgehandel wees.

Die Pos het berig dat die brandweer die brand nie vinnig en doeltreffend kon bestry nie omdat die brandweerwa wat eerste op die toneel was, nie water kon spuit nie. Hoewel dit gery en later teruggekeer het, kon dit steeds nie die taak verrig nie.

Nyl Uitlate in Modimolle in vlamme nadat ‘n brand op Woensdag 16 Augustus uitgebreek het.

Brandbestryders met ’n bakkie en kleiner toerusting en Ernst Bruwer van Working on Fire het die vlamme probeer blus maar die skade was reeds gedaan. ’n Tweede brandweerwa het later opgedaag en kon die smeulende reste van die gebou blus. Ooggetuies het gegis dat die brandweerwa nie genoeg water gehad het nie of dat dit gelyk het asof die voertuig nie genoeg druk kon opbou om die water te spuit nie.

Die Pos het navrae aan die Waterberg-distriksmunisipaliteit gerig. Volgens woordvoerder Kabelo Mosito het die brandweer wel “betyds” opgedaag met ’n bakkie én ’n brandweerwa.

“Omdat daar nie ’n brandkraan in die omgewing was nie, moes die brandweerwa teruggaan stasie toe om dit te hervul. Wanneer brandbestryders by ’n toneel opdaag, koppel hulle eerste die brandweerwa aan ’n brandkraan, anders sal die voertuig se water gou opraak. Dit kan veroorsaak dat die pomp beskadig. In hierdie geval het die brandweerwa se tenk leeg geraak. Die hoofbrandbeampte was self ook op die toneel,” het hy gesê.

Volgens Mosito lê die verantwoordelikheid vir die brandkrane by die plaaslike munisipaliteit en nie by die distrik nie.

Karel Niewenhuis, VF Plus-raadslid by die distrik, sê die brandweer is nie in staat om hul taak te verrig nie.

“Een van die probleme wat ons ondervind, is dat daar nie brandkrane in die dorp is nie. Die nuwe brandweerwaens, wat ’n baie kragtige straal water kan spuit, se tenks is binne minute leeg en dan moet daar al die pad teruggejaag word stasie toe om dit te hervul.”

Die brandweerwaens is onlangs teen ’n koste van R4,5 miljoen elk aangeskaf.

Hy het gesê kort nadat verlede week se brand uitgebreek het, het hy na die stasie gery, maar daar was niemand in die beheerkamer nie.

“Ons kan nie ’n volhoubare diens lewer nie; dit is nou maar so. Ons het te min brandbestryders om die hele Waterberg-gebied te diens — ons kort minstens nog 40. Dis ’n wye gebied en sluit Marble Hall, Lephalale, Thabazimbi, Modimolle, Bela-Bela, Mokopane in. Ons personeel is ook nie goed genoeg opgelei en ervare genoeg nie,” is sy mening.

Related Articles

Back to top button