Local news

Veldbrand rig skade by Towoomba aan

Die veldbrand wat op Maandag 21 Augustus buite Bela-Bela gewoed het, het groot skade aan weiding aangerig en strukture het in die slag gebly.

Die brand het vermoedelik naby die Warmbad-vliegveld ontstaan en omdat die wind redelik sterk was, het die vlamme gou versprei in die rigting van die Towoomba-landbounavorsingstasie, het Mel Meyer van die Bela-Bela brandbeskermingsvereniging gesê.

Talle brandbestryders van die distriks- munisipaliteit, privaat mense en lede van Working on Fire (WOF) het Maandagaand toegekyk hoe die wind die vlamme reg oor brandbane tot in aangrensende kampe laat spring.

Die vlamme het weiding by Towoomba afgebrand en een van hul store, waar sowat 250 hooibale gestoor was, het in die slag gebly.

Die departement van landbou se navorsingstasie, Towoomba, buite Bela-Bela het erg deurgeloop onder ’n veldbrand. Een van hul store het in die slag gebly.

Die diere by Towoomba kon betyds na veiligheid gejaag word.

“Ons is nie heeltemal seker hoe die brand ontstaan het nie, maar daar word beweer dat houtkappers of beeswagters dit veroorsaak het. Dit is egter nie bevestig nie. Ons is steeds besig om die skade te bepaal,” sê Meyer.

Ofentse Letswalo, WOF-woordvoerder, sê die brandbestrydingspan van Sondela het ’n belangrike rol gespeel om die vuur tot bedaring te bring.

“Die brand het ongeveer 100 ha veld afgebrand,” het Letswalo gesê.

Die brandbeskermingvereniging het mense gemaan om dadelik enige rook aan te meld sodat spanne kan optree.

Die nasionale verbod op die maak van oop vure is steeds in werking.

Die verbod is in Junie ingestel en sal waarskynlik eers opgehef word nadat die eerste goeie reën geval het. Mense wat brande veroorsaak, staar vervolging in die gesig.

Related Articles

Back to top button