Local sport

Nolene het haar oog op die rekord

Nolene Schlemmer, ’n jong gewigopteller van Modimolle, het weer koning gekraai by die Suid-Afrikaanse gewigoptelkampioenskap.

Nolene, ’n gr.11-leerder aan Hoërskool Nylstroom, het op Saterdag 5 Augustus aan die byeenkoms in Kaapstad deelgeneem. Die lang en toegewyde ure wat sy in die gimnasium deurgebring het, het vrugte afgewerp. Sy het in haar gewigskategorie eerste plekke verwerf in die jeug- en die junior-afdeling.

Sy is ook aangewys as die algehele beste vroue jeug- en juniorgewigopteller in die land.

Nolene, wat gemaklik 80 kg bo haar kop kan optel, het in Julie vanjaar aan die Statebondspele in Delhi, Indië, deelgeneem. Sy word afgerig deur Koos Henning, wat self ’n gesoute gewigopteller is wat verskeie titels verower het.

Nolene Schlemmer van Modimolle.

Sy hunker al lank reeds daarna om haar naam in die rekordboeke geskryf te sien en dit is presies haar plan vir Oktober. Sy is besig met voorbereiding en afronding vir die Suid-Afrikaanse seniorkampioenskap en het haar oog op die jeugrekord in haar gewigskategorie.

Die rekord van 74 kg vir “snatch” en 90 kg vir “clean and jerk” met ’n totaal van 164 kg is binne haar bereik aangesien haar persoonlike beste 71 kg is vir “snatch”, 87 kg is vir “clean and jerk” met ’n totaal van 158 kg. Die “snatch”-tegniek verwys na waar die gewig in ’n enkele beweging met ’n wye greep op die stang tot bo die deelnemer se kop gelig word. In die “clean and jerk”-metode het die gewigopteller ’n nouer greep en lig die gewig eers van die grond af tot by hul skouers, en daarna met ’n ruk-aksie tot bo hul koppe.

Gedurende kompetisies word die swaarste gewigte van dié twee tegnieke bymekaar getel om ’n totaal te kry wat die wenner bepaal.

“Daar lê nog baie harde werk vir my voor,” het sy gesê.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button