Local news

Pasop vir brande in dorre veld

Goeie reën wat tot laat in die seisoen geval het, het gesorg dat die winterveldbrande tot op hierdie stadium redelik onder beheer was.

Mariette Nicholson van die Modimolle Fire Protection Agency (FPA) glo dat die laaste kouefront wat die omgewing ervaar het, die gevaar vir veldbrande kan verhoog.

Volgens Nicholson is daar 24 vure vanaf Meimaand in die Modimolle-omgewing by die FPA gerapporteer. Dit sluit nie kleiner vure in wat nie deur grondeienaars gerapporteer is nie. Gedurende dieselfde tydperk verlede jaar is 15 vure gerapporteer en het Working on Fire (WoF) by 11 brande bystand gaan verleen.

Die WoF-spanne het vanaf Mei by 16 van die 24 brande bystand verleen. Daar het na raming 30 800 hektaar in die tydperk afgebrand, waarvan die grootste deel in die Welgevonden/
Marakele-gebied was, het Nicholson gesê. In baie gevalle is die oorsaak van die brande nie bekend nie, maar sommige van die wegholvure het begin deur nalatigheid soos die brand van ’n asgat, grassnyers (slashers) wat die droë gras sny en kinders wat met vuurhoutjies gespeel het.

“Mense moet asseblief oplettend en paraat bly en enige rook of vure dadelik op die WhatsApp-groepe aanmeld,” het Nicholson gevra.

Grondeienaars moet verseker dat hulle brandblustoerusting te alle tye diensbaar en gereed is om te gebruik.

“Indien daar ’n brand op jou grond of in jou omgewing was, verseker asseblief dat baie goeie opruimingswerk ná die tyd gedoen word, aangesien vure baie keer weer die volgende dag kan opvlam.”

Related Articles

Back to top button