Local news

Ag nee tog, dit lyk regtig vieslik!

Die burgerregte organisasie AfriForum het tot op datum 161 vullisterreine landwyd geoudit as deel van hul nasionale projek om die toestand van vullisterreine in Suid-Afrika te bepaal. 

Slegs twee uit die 14 vullisterreine in Limpopo het aan die nasionale standaarde voldoen.

Cee-J van der Walt, AfriForum se distrikskoördineerder vir Soutpansberg, sê dit kan hoofsaaklik toegeskryf word aan swak bestuur.

“Die probleme wat deurlopend deur ons taklede opgemerk word, is dat daar geen instandhouding is nie. Die munisipaliteite het nie grondverskuiwingstoerusting op die terreine wat die vullis gelyk maak en netjies toestoot nie.” “Verder is daar geen toegangsbeheer nie, dus word daar nie gemoniteer watter soort vullis inkom nie. Dit is ’n groot bron van kommer aangesien die munisipale amptenare van Limpopo nie tot verantwoording geroep word weens wanbestuur nie. Munisipale verval is aan die orde van die dag en dit is duidelik dat veral kleiner munisipaliteite onder grootskeepse wanbestuur gebuk gaan,” het hy gesê.

AfriForum het die munisipale vullisterreine in Die Pos se lesersgebied die volgende voldoeningsyfers toegeken: Mookgophong (24%), Modimolle (22%), Mokopane (0%), Roedtan (0%) en Bela-Bela (68%).

“Hierdie situasie kan daaraan toegeskryf word dat die departement van bosbou, visserye en omgewing (DBVO) deur drie verskillende regeringsfere beheer word. Die nasionale departement het slegs bevoegdheid om op nasionale vlak wette, beleide, norme en standaarde vas te stel, maar hulle het geen bevoegdheid op provinsiale of munisipale vlak nie,” sê Van der Walt. “Die provinsie rapporteer aan die provinsiale LUR, nie aan die minister nie. Die departement van samewerkende regering en tradisionele sake (CoGTA) en die DBVO kommunikeer nie met mekaar nie en dit lei weer tot verdere uitdagings.”

AfriForum sal aanhou om die toestand van vullisterreine te moniteer.

Related Articles

Back to top button