Letters

Brief: Ons is hier om te bly!

Ons plattelandse dorpe se mense is van die beste wat daar in die wêreld is.

Oupie, Bela-Bela-inwoner, skryf:

Ek woon al my hele lewe in die Waterberg en beoog om hier te bly totdat die dood my kom haal.

Ja, ek weet hier is nie meer ’n hospitaal nie, maar ek maak maar ander planne. Ek sit nie op ’n hoop en sê: “Ag, hier is nie meer ’n hospitaal nie …”

Daar is bedelaars en lastiges om elke hoek en draai, maar ek wuif maar vriendelik en gee eerder my tiende vir die kerk of vir die armes wat ek ken. Daar is oral in die dorp papiere, maar ek hou maar skoon voor my deur en in my straat. As ’n mens saans gaan wandel, moet jy mooi trap om slaggate, lekkende dreinpype en stukkende sypaadjies te vermy en daarom skenk ek van tyd tot tyd produkte of geld vir vrywilligers of sakeondernemings wat dit wil herstel.

Ons plattelandse dorpe se mense is van die beste wat daar in die wêreld is. Ons sal opstaan uit die as, want ons het geen ander keuse nie en al hoe meer mense begin sien dat die keiser (die ANC-regering) poedelnaak is.

Waar in jou lewe het jy gesien dat raadslede hulle persoonlike telefoonnommers gee sodat hulle die publiek kan help om hul rekeninge (wat deur onbekwame staatsampenare in ’n gemors gedompel is) uit te sorteer? Hoekom is raadslede die enigste mense wat saans vir inwoners terugvoer gee oor waar die krag of water is?

As ’n winkel vir ’n mens swak diens lewer, dan skroef jy hulle op: Jy weier om te betaal, jy gaan sien die bestuurder, jy sê hulle sleg op sosiale media en weier om hulle weer te ondersteun. Jy soek jou produk by ’n ander verskaffer. Net so moet ons met die regeringsdepartemente maak. Maak sélf planne om minder afhanklik te word van mense wat jou niks teruggee in ruil vir jou swaarverdiende geld nie. Ons (die wetsgehoorsame Suid-Afrikaanse burgers van alle bevolkingsgroepe, gelowe, kleure, kulture en wat ook al deesdae polities korrek is) gaan nêrens heen trek nie. Ons bly net hier.

Ons sit ons voete neer en is stilletjies besig om ons eie planne te maak. Nie om landuit te gaan nie. Nee, glad nie. Om gelukkig en veilig en selfonderhoudend te word.

Related Articles

Back to top button