Local news

Dié boer palm prys in met sitrus, braaihoenders en wild

Agri Limpopo se jaarlikse landboukongres is die afgelope week by die Weesgerus-vakansieoord buite Modimolle gehou met die tema “Hope is a verb with its shirt sleeves rolled up”.

Tydens die kongres, wat op 15 en 16 Augustus plaasgevind het, is JJ de Nysschen as die 2023 Santam Jongboer van die Jaar aangewys. De Nysschen boer reeds agt jaar op die familieplaas Junction in die Letsitele/Letaba-distrik met sitrus, braaihoenders, bees en wild.

“Die Jongboere in Suid-Afrika herskryf voorwaar die definisie van passie, toewyding en sukses binne landbou,” het Emil Pretorius van Santam gesê. “Sy visie vir die boerdery is om maksimum produksie te omsluit met die sitrus en aangesien braaikuikens ’n noodsaaklike voedselbron is, is dit sy visie om ook hierdie aktiwiteite aansienlik uit te brei.”

Pretorius het gesê dat De Nysschen homself as ’n visionêre leier beskou en graag ander jongboere wil inspireer om hulle drome na te jaag, vir hulself doelwitte te stel en veral in hulself te glo.
De Nysschen gaan Limpopo verteenwoordig by die Nasionale Toyota SA Jongboer van die Jaar-kongres waar die nasionale wenner in November aangewys gaan word.

Jeandre van den Berg, wat in die Steelpoort-omgewing naby Burgersfort boer, was die naaswenner.

Related Articles

Back to top button