Local sport

Hansies maak die reëls by kragmeting

Hoërskool Hans Strijdom in Mookgophong se leerders het weer bewys dat hulle die “reëls” maak in 2023 toe hulle verskeie van die Bosveld Interhoër-kragmetings gewen het.

“Ek is so trots op die Hansies en die wyse waarop hulle deelgeneem en presteer het,” het Rinus de Jager, hoof van die skool, gesê.

Die kragmetings is vanjaar deur Hoërskool Ben Viljoen in Groblersdal aangebied. Die groot interhoër-atletiekbyeenkoms is op Saterdag 25 Februarie ook daar gehou.

Die Hansies se senior en junior redenaars het koning gekraai tydens die Interhoër-redenaarskompetisie. Foto: Jean-Marie Heyns

Die landloop- en redenaarskompetisies is op Dinsdag 8 Augustus gehou en die Hansies het as wenners uit die stryd getree. Dit was die derde agtereenvolgende jaar dat die Hansies die landloop oorheers het. Elandi van Staden van die Hansies het die junior meisiesafdeling gewen. Die junior meisies- en senior seunsspanne eindig algeheel derde en die senior meisies behaal die tweede plek.

Die redenaars het skoonskip gemaak. Reuben van der Wal was die wenner van die junior voorbereide toespraak vir huistaal en Marnus Law het ’n derde plek gewen. In die onvoorbereide toesprake was Marnus Law die wenner en Eben Groothof was derde in dieselfde afdeling. Isebelle de Beer het ’n welverdiende tweede plek in die senior voorbereide afdeling vir huistaal behaal en die onvoorbereide afdeling gewen. Kgodiso Makaneta was die wenner vir die junior eerste addisionele taal en Nomsa Chaba was naawenners in die senior afdeling. Die junior- en seniorspanne het die meeste punte behaal, wat die Hansie in die algehele eerste plek geplaas het.

Die Hansies se eerste krieketspan het Hoërskool Ellisras met 71 lopies geklop. Foto: Riana Potgieter
Henco Havenga, MW de Jager, Reuben van der Wal en Janco Abrahamse het ’n derde plek in die Limpopo-gholfkompetisie behaal. Janco is aangewys as speler van die dag. Foto: Riana Potgieter

Tydens die Interhoër-toneelkompetisie wat op Woensdag 9 Augustus aangebied is, het die Hansies se toneelgroep ’n tweede plek behaal. Die toneelgroep van Hoërskool Piet Potgieter het die Hansies met ’n skamele 0,2% gewen. Reuben van der Wal van die Hansies is aangewys as die beste akteur en hulle het ook die toekenning vir die beste ensemblespel verower.

Hoërskool Hans Strijdom se eerste krieketspan het op Saterdag 12 Augustus teen Hoërskool Ellisras gespeel en met 71 lopies gewen.

Dié toneelgroep van die Hansies is blink sterre. Hulle is aangewys as naaswenners. Foto: Jean-Marie Heyns
Die Hansies se junior skaakspan is as ligawenners aangewys. Voor is Yannich Pretorius, Juan Muller en Xuan Pretorius Agter is Johan Potgieter, Tristen Neethling, Enrico Dicks en Christo Lotterie. Foto: Riana Potgieter
Die senior skaakspan het tweede in hulle liga geëindig en daarmee gewys hulle is ’n gedugte span om mee rekening te hou. Links is Kgothatso Modiba, Hamza Khalid, Thobile Kgabo, Juan-ré du Plooy en Jan-Daniël Bothma. Afwesig: Divan van der Merwe. Foto: Riana Potgieter
Twee van Hoërskool Hans Strijdom se onderwysers, Martin van Heerden en Henrico Zerwick, is gekies vir die Limpopo Blou Bulle Amateur-rugbyspan. Foto: Riana Potgieter

Ook in die Limpopo-gholfliga, waar sewe skole in die A-liga deelgeneem het, het die Hansies hul staal gewys en ’n derde plek behaal. Janco Abrahamse het die laagste telling op ’n 36 putjie kompetisie aangeteken. Hy is aangewys as wenner en die speler van die dag.

Die Hansies is ook baie trots op hulle junior skaakspan wat vanjaar as ligawenners aangewys is en die seniorspan was die naaswenners.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button