EntertainmentLocal news

Sepiesterre kuier in die Bosveld

’n Groot lekkerte het gereelde sepiekykers in Kokanje-aftreeoord, buite Modimolle, op Vrydag 4 Augustus te beurt geval.

Ses akteurs van Diepe Waters en Binnelanders van KykNet het ’n draai by die aftreeoord gemaak en saam met hul aanhangers gekuier en lewendige besprekings gehad oor die rolle wat hulle vertolk.

Stephanie Baartman (in die rol van Lettie Adonis), Stiaan Bruwer (Henry Jakobus Paddu) en Tracey-Lee Olivier (Pam Joubert) van Diepe Waters is met ope arms ontvang. Die sepie, wat handel oor die mededingende sy van die swemklub, die Swartmarlyne (’n familie-onderneming) hou kykers op hul stoelpunte met die talle intriges en romanses in die draaiboek.

Bettie Botha en Gerald Steyn, akteur van Binnelanders, gesels soos ou vriende.

Die Binnelanders-akteurs Kate Roothman (dr. Nicolette Nortjé), Luandri Reynders (Karen Kriel) en Gerald Steyn (dr. Uys Wagener) moes bontstaan om foto’s saam met hul aanhangers te neem.

Die akteurs het die naweek by die Weesgerus-vakansieoord deurgebring as deel van die sanger en aanbieder Pieter Koen se Kuier-kamp.

Een van die inwoners, Marie du Preez, was baie opgewonde oor die besoek.

Bo: Charmaine en Marius Erasmus het heerlik gekuier saam met Stephanie Baartman, Stiaan Bruwer en Tracey-Lee Olivier van Diepe Waters.

“Dit is so lekker om die mense te ontmoet. Ek is mal oor Stiaan wat die rol van Henry in Diepe Waters speel. Hy speel sy rol so oortuigend.”

Charmaine en Marius Erasmus sê dit voel asof hulle hierdie mense al jare lank ken, want hulle kuier dan so gereeld saam voor die televisie.

Luandri Reynders, Kate Roothman, Bettie Botha, Gerald Steyn en Johann Symington gesels soos ou vriende.

“Ná middernag wanneer almal slaap, kyk ons twee heerlik na ons stories. As die krag af is, moet die omskakelaar (inverter) maar help, want ons loop nie ’n enkele episode mis nie. Eskom sal nie ons vreugde steel nie!”

Die akteurs was opgewonde oor die naweek in die Bosveld en die effe warmer weer.

Tracey-Lee Olivier van Diepe Waters en Gerda Jansen van Rensburg van Kokanje.

“Die inwoners het soveel stories en lewenservaringe om te deel,” het Stiaan gesê. “’n Mens wens jy het genoeg tyd om lank te bly sit en almal se stories te hoor.”

Op ’n vraag oor hoe sy oor Augustus se Vrouemaand voel, sê Stephanie Baartman dit is vir haar ’n bevestiging van haar waarde.

“Ek het krag. Soveel vroue is ontneem van hulle krag: of dit nou finansieel, fisiek of emosioneel is. Hulle het nodig om te weet dat vroue ook tel.”

Related Articles

Back to top button