Local news

Ná hartseer, blom liefde vir dié paartjie

Omring met skakerings van pers en pienk het die liefde verlede Saterdag 5 Augustus geseëvier toe Corlia Branders van Bela-Bela trou beloof het aan André Roelofse, ’n makelaar van Tzaneen.

Die egpaar is in die huwelik bevestig by die Bougainvilla-aftreeoord in Montana, Pretoria.

Corlia was jare lank ’n psigometris en sielkundige berader in Bela-Bela. Sy vestig nou saam met haar man in Tzaneen.

Die stralende bruid vertel haar lewe het ’n ander koers ingeslaan nadat haar eerste man, Louis, op 6 Januarie 2021 aan Covid-19 oorlede is.

Corlia se drie kinders het spesiaal van oorsee gereis om die huweliksplegtig-heid van hul ma by te woon. Hier is Ilse en Jan-Paul Roelofse, André en Corlia Roelofse, Mariette Branders, Martlie Fourie en Willie Branders.

André se vrou is verlede jaar ná ’n kankerstryd oorlede.

“Ek moes besluit of ek hier gaan aanbly of emigreer. My kinders woon almal oorsee. Ná vele kopkrap het ek vir my ’n plek in die Bougainvilla-aftreeoord gekoop en kort daarna in Februarie vanjaar vir André ontmoet.”

Sy vertel laggend sy het aangebied om ’n paar kliënte in Tzaneen, waar hy woon, te assesseer. “My enkelkaartjie het in ’n troukaartjie verander.”

Corlia bedank al die skoolhoofde, onderwysers, leerders, kliënte en vriende wat haar pad gekruis het. Sy het haar passie in Bela-Bela uitgeleef en sien nou uit na ’n nuwe seisoen in haar lewe saam met haar man.

Related Articles

Back to top button