Local news

Hercules Louw groet Naboom Tehuis vir Bejaardes

Hercules Louw was die afgelope 15 jaar betrokke by die Naboom Tehuis vir Bejaardes in Mookgophong.

Die laaste nege jaar daarvan was hy in die uitvoerende pos as bestuurder en het hy die inwoners se belange op die hart gedra.

Hy is onlangs op die uitvoerende komitee (UK) van die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit verkies en weens die omvang van dié pos het hy besluit om die tuig neer te lê.

“Daar was nie een dag dat ek dit nie geniet het om deel te wees van ons inwoners se wel en weë nie. Ek kyk ná nege jaar terug en sien hoe die Here my gelei het om my taak te verrig. Daar was baie hoogtepunte, maar soos die lewe is, ook laagtepunte. Dit was gelukkig aansienlik minder. Tydens die tydperk was daar ’n groot staking van personeel en ek sal nie vergeet hoe die gemeenskap hande gevat en die Tuiste ondersteun het met kosmaak, wassery en die versorging van bejaardes nie,” het hy aan Die Pos gesê.

Gedurende die Covid -19-pandemie moes hy 20 bejaardes groet en dit was vir hom ’n baie hartseer tyd. Louw het ook sy vrou, Suzette, weens Covid-19 aan die dood afgestaan.

Volgens Louw het daar op die moeilikste tye ook goeie dinge gebeur en kan hy net sy dank uitspreek teenoor elke werknemer, donateur, plaaslike gemeentes, die departement van welsyn, ds. Lou Erasmus en die bestuur van die Tuiste en die inwoners van die dorp.

“Ek sal almal mis, want die bande wat ’n mens in so ’n organisasie smee, is rieme wat sag en sterk gebrei is. Dit breek nie maklik nie en gaan ook nie gou tot niet nie. Dankie aan almal wat betrokke was met my aanstelling vir die voorreg om my talente, ervaring en myself te kon gee aan die Tuiste,” het hy gesê.

“Ons sal Hercules baie mis, maar weet dat hy altyd ons belange op die hart dra,” het een van die inwoners aan Die Pos gesê.

Louw se ma, wat 99 jaar oud is, woon ook nog in die Tehuis.

Louw was agt jaar lank bevelvoerder van die Weermag Depot buite Mookgophong waarna hy afgetree en sy eie onderneming begin het. Hy was reeds vier jaar by die Tehuis betrokke voor sy aanstelling as bestuurder.

Related Articles

Back to top button