Local news

Sop bring warmte in winter

Die mense van ons land kry swaar.

Met die snerpende koue wat Waterbergers die afgelope week laat bibber het, was ’n stomende koppie groentesop ’n heerlike meevaller vir inwoners van Bela-Bela.

Die vrywilligers by die Suid-Afrikaanse Vrouefederasie (SAVF) in Bela-Bela het die afgelope twee weke groot potte sop by hul saal in Mentzlaan gemaak en dit gratis aan inwoners bedien.

Die SAVF vervul al vir baie jare ’n maatskaplike rol in die land en gemeenskap. Hulle fokus daarop om behoeftige gesinne van voedsame etes te voorsien en het ook ’n ruim hart vir kinders in die gemeenskap.

Die lede hou gereeld fondsinsamelingsprojekte — van kosmaak, naaldwerk, klere uitdeel tot suksesvolle markdae. Die SAVF maak staat op donasies, maar gebruik hul inkomste om hul voedingsprojek te volhou. Die afgelope week se gratis sop was nie net vir minderbevoorregte inwoners nie, maar ook vir mense wat die SAVF getrou ondersteun.

Reinette Mostert, nuwe SAVF-voorsitter, vertel hulle het verskeie uitdagings oorkom, maar is nou weer goed op dreef en sal voortgaan om die gemeenskap te dien.

“Dit is werklik hartroerend om behoeftige of werklose mense te help. Die land se swak ekonomiese toestand veroorsaak dat al hoe meer mense kom vra vir hulp. Die mense van ons land kry swaar. Ons het selfs die afgelope week mense vanuit ander dorpe gehelp met ons sopprojek. Hulle was baie dankbaar vir die hulp,” vertel sy.

“Enige hulp of donasie aan die SAVF sal waardeer word. Indien boere dalk oorskotvleis of groente het, sal ons dit baie goed in ons voedingsprojek kan gebruik.”

Die SAVF verskaf elke Dinsdag en Vrydag vanaf 10:00 tot 12:00 sop. Inwoners wat graag van die heerlike sop wil bekom, is welkom om dit teen ’n geringe donasie te kom afhaal.

Die lede beplan om in Augustus ’n wit olifant-markdag te hou, asook ’n Vrouedagviering. Enige skenkings van oorbodige artikels is welkom.

Vir meer inligting bel vir Mostert by tel. 072 384 6042 of vir Rika Kruger by tel. 082 558 0995.

Related Articles

Back to top button