Local sport

Hansies eindig naelskraap tweede teen Frikkies

Die o.16A-rugbyspan van Hoërskool Hans Strijdom in Mookgophong is Saterdag 22 Julie naelskraap geklop deur die span van Hoërskool Frikkie Meyer in Thabazimbi tydens die Limpopo-finaal. Die wedstryd is op die Frikkies se tuisveld gespeel.

Volgens Lebu van Heerden, afrigter van die Hansiespan, was dit ’n spannende wedstryd en die Hansies het teen halftyd met 6–0 voorgeloop. Die Frikkies het in die 45ste minuut ’n drie gedruk en toe die sirene reeds aan die einde van die wedstryd geloei het, het hulle ’n strafskop deur die pale geskop wat die telling op 8–6 te staan laat kom het.

Hendrico van der Colff het met twee strafskoppe die Hansies se punte aangeteken. Kian du Plessis het gedurende die seisoen die meeste punte vir die span ingesamel.

Die Hansies speel op Saterdag 29 Julie in die kwarteindronde van die Noordvaal-trofee. Die wedstryd sal teen HTS John Vorster op die Hansies se tuisveld gespeel word. “Ons het die afgelope seisoen baie goed gevaar en ek en my mede-afrigter, Renaldo Dorfling, is baie trots op die welslae wat behaal is,” het Van Heerden gesê.

Die span het 11 van hul 16 wedstryde gewen, slegs vier verloor en in een gelykop gespeel. Van Heerden sê een van hul beste wedstryde, en boonop ’n groot sege, was toe hulle vir Hoërskool Ellisras oortuigend met 24–0 geklop het.

“Ons hou hierdie spannetjie dop en glo dat hulle goed sal vaar in die laaste paar wedstryde,” het Rinus de Jager, hoof van die Hansies, gesê.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button