Local sport

Nylies doen dit weer!

Dit was ’n groot rugbyweek vir die spanne van Hoërskool Nylstroom met twee spanne wat as Limpopo-kampioene koning gekraai het en twee spanne wat as naaswenners uit die stryd getree het.

Die kampioenskap vir mediumgrootte skole het op Saterdag 22 Julie by die Hoër Tegniese Skool Tom Naudé in Polokwane plaasgevind.

Die Nylies se o.15-span het die liga met 24–11 teen Hoërskool Louis Trichardt gewen met Marnus Rontgen wat twee drieë gedruk en Rubin Viljoen en Herman Kruger wat ook hul merk agter die doellyn gaan maak het. Erlu Fourie het twee geslaagde doelskoppe gehad. Die spankaptein is Brandon Brandford met Erlu Fourie as onderkaptein. Hulle is afgerig deur Wollie Booysen, Victor Brandford en Dawie de Jager.

Die o.16-span het ook met die beker weggestap nadat hulle in die eindstryd met 39–21 teen Curro Heuwelkruin geseëvier het. Die puntemakers was Jannes van Zyl, Neo Seabi, Junior Venter, Shalom Molelekwa en Koketso Mariri met drieë en Tiaan Steffen se akkurate skopvoet wat drie doelskoppe en twee strafskoppe tussen die pale deurgestuur het. Tiaan was ook die kaptein met Jannes as onderkaptein. Die span is afgerig deur Johan Badenhorst, Franna van Zyl en Hennie Steffen.

JP Putter van Hoërskool Nylstroom se o.16-rugbyspan maak seker hy vat vas. Die span tree as ligawenners uit die stryd.
Neo Seabi speel vir die Nylies se o.16-rugbyspan.

Die o.14-span tree uit as naaswenners ná die eindstryd teen Hoërskool Louis Trichardt. Die telling was 19–13 in Louis Trichardt se guns. Christiaan van der Walt en Elwin van Niekerk het drieë aangeteken en Peet Snyman het ’n strafskop sekuur tussen die pale deurgestuur. Thabang Monyebodi was die kaptein en Nathan Coetzee die onderkaptein. Hulle word afgerig deur Pieter Theron en Andrie Cronjé.

Thabang Monyebodi weier om grond toe te gaan. Hy speel vir die Nylies se o.14-span wat naaswenners in die liga was.

Die eerstespan het naelskraap teen Hoërskool Louis Trichardt verloor met 22–27. Die eerstespan se punte is aangeteken deur Gavin Smith, SG Pretorius en Kgaugelo Robinson se drieë. Smith het ook ’n doelskop en ’n strafskop tussen die pale deurgesit. Die spankaptein was Gavin Smith en onderkaptein was Conrad Meyer. Die span se afrigters is Anton du Plessis, Michael Murray en Kosie de Jager.

Al vier die spanne dring deur na die Noordvaal-kampioenskap wat die komende naweek begin.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button