Local news

Groot kat kry woema

Die Mabalingwe-natuurreservaat buite Bela-Bela het baanbrekerswerk gedoen in diereversorging in hul roofdierpark.

Moya, ’n jagluiperd, is onlangs naby die Botswana-grens in ’n strik beseer. Haar regtervoorpoot is só erg beseer dat veeartse en natuurbewaarders nie seker was of sy ooit weer in die natuur sal kan aanpas nie.

Hannes Wessels, natuurliefhebber en eienaar van Mabalingwe, het aangebied om haar na die reservaat se roofdierpark te bring waar ’n span deskundiges sal poog om haar te rehabiliteer. Haar beweging was egter baie beperk en dit was gou duidelik dat sy nie weer vrylik in die natuur sal kan oorleef nie.

’n Besoeker van Centurion, Megan van der Walt, het Moya in November 2022 ontmoet en ’n hand uitgereik om die pragdier se lot te verbeter.

Moya, ’n beseerde jagluiperd het ’n nuwe beenstut (prostese) gekry danksy die kennis van AB Coetzee (links), ’n ortotis van Kimberley.

Sy het ’n mediese ortotis, AB Coetzee, in Kimberley gekontak en gevra of ’n prostese nie vir Moya sal help nie.

“Megan het my deur sosiale media gekontak. Ek het in Augustus 2020 Project Wild gestig waar ek my kennis van prosteses vir mense gebruik het om ook diere te help met mobiliteit,” vertel Coetzee. Ek doen baie navorsing oor die betrokke dier, kyk na hul anatomie en beweging en maak dan vir hulle ’n prostese of stut sodat hulle normaal kan funksioneer.”

Moya is op Saterdag 15 Julie by die reservaat onder verdowing geplaas terwyl ’n groep studente van die Onderstepoort-veeartsenyhospitaal van die Universiteit van Pretoria en enkele besoekers kon toekyk hoe Coetzee vir Moya met ’n nuwe beenstut toerus.

Befondsing vir Coetzee se diereprojekte is volgens hom altyd ’n uitdaging. Dit is slegs liefdadigheidsorganisasies of mense wat die welstand van diere op die hart dra wat bydra tot hierdie projekte. Hy beskou die projek op Mabalingwe as natuurbewaring en ’n belegging in die biodiversiteit en voortbestaan van ons fauna en flora. Hy het die mediese koste van Moya se beenstut self gedra.

“Ons gebruik juis dié geleentheid, in samewerking met Mabalingwe, as ’n opvoedkundige program om bewusmaking te kweek en om in die toekoms befondsing te verkry vir soortegelyke projekte,” vertel hy. “Ek het Moya se beenstut in drie dae uit poliëtileen gemaak. Ek vertrou dat die nuwe stut haar beweging sal verbeter.”

Wessels, wat bekend is vir sy passie vir die natuur, het aan Die Pos gesê hy en sy span is dankbaar vir Coetzee se welwillendheid en sy kundigheid. Hulle sien daarna uit om Moya se vordering te moniteer en glo dat sy weer as roofdier sal kan funksioneer.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button