Municipal

Nuwe ANC-burgemeester vir Modimolle

Die ANC het op Woensdag 12 Julie die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit teruggewen van die DA nadat Aaron Sebolai tydens ’n spesiale raadsitting as nuwe burgemeester verkies is.

Dié munisipaliteit was jare lank DA-terrein met wyle Marlene van Staden wat landwyd die kollig op die Waterberg laat val het met die knap manier waarop sy die munisipa-
liteit bestuur het.

Hercules Louw (DA-raadslid) en Sebolai (ANC) was die twee kandidate wat vir die pos oorweeg is.

Die munisipale raad is sedert 2016 — kort nadat Modimolle en Mookgophong se munisipaliteite saamgesmelt het — in ’n samewerkingsooreenkoms deur die DA, VF Plus en EFF bestuur. Van Staden was die burgemeester, Dingaan Motswene die speaker en Louw die hoofsweep van die raad.

Aaron Sebolai (regs) word deur Rufus Mahoro (links) van die ANC gelukgewens nadat hy met ’n meerderheid stemme gekies is as burgemeester.

Van Staden is ná die 2021-munisipale verkiesing herkies as burgemeester nadat ’n muntstuk opgeskiet is omdat die verkiesing telkens op ’n gelykopuitslag van 14 stemme elk uitgeloop het.

’n Gelykopstryd is ook tydens verlede week se spesiale raadsvergadering verwag.

Die Pos het verlede week berig dat die eerste poging om ’n nuwe burgemeester te verkies, jammerlik misluk het omdat soveel raadslede nie opgedaag het nie, dat ’n kworum nie bereik kon word nie.

Johan Prinsloo, VF Plus-raadslid, wat in Marlene van Staden se plek as burgemeester waargeneem het, plaas sy stem vir ’n nuwe burgemeester in die stembus.

Woensdag se vergadering het egter min vertragings opgelewer, behalwe vir enkele onderbrekings deur EFF-raadslid Bravo Mojela wat onvanpaste tussenwerpsels gemaak het.

Die geleentheid is ook gebruik om die DA se nuwe raadslid, Wynand Bekker, amptelik te verwelkom.

Die stemproses is vinnig afgehandel en daar is aangekondig dat 17 raadslede vir Sebolai en 11 vir Louw gestem het.

Sebolai is onder luide toejuiging van die toeskouers en ANC-raadslede gelukgewens. Hy is daarna in die amp as burgemeester bevestig en die munisipaliteit se burgemeesterketting is om sy nek gehang.

“Ek het nie veel om te sê nie, behalwe dat God se beplanning altyd perfek is. Die ANC het nie die munisipaliteit sedert 2016 gelei nie en daarom bedank ek die raadslede, asook die ANC-bestuur, wat in my geglo het,” het Sebolai in sy kort toespraak gesê.

“Ons streef daarna om ons gemeenskap van skoon water en beter paaie te voorsien, om die riool- en kragprobleme in die dorp te verbeter en om enige diens wat ons aan die belastingbetaler moet bied, te voorsien of om daarop te verbeter. As ons saamwerk, kan ons almal baie meer doen.”

Sebolai en Louw het benoemings aanvaar om as lede van die munisipale uitvoerende komitee, saam met lede van die ANC, EFF en VF Plus, te dien.

Johan Prinsloo, VF Plus-raadslid, tree uit as waarnemende burgemeester.

Sinah Langa is verkies as speaker en Maria Kekana as hoofsweep.

Langa het aan raadslede gesê die rede waarom die eerste verkiesingsvergadering einde Junie nie kon plaasvind nie, was omdat sy siek was. Sy het gesê sy het ’n mediese sertifikaat ingedien.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button