Schools

Tuinies bou al sewe dekades voort

Die Waterberg het ’n ryk geskiedenis van plaasskole.

Retha Weir, ’n bestuurslid van Laerskool Tuinplaas, het onlangs aan Die Pos geskryf en vertel oor Laerskool Tuinplaas en ons het besluit om meer uit te vind.

Die skool bestaan al bykans 70 jaar en hul doel is steeds om goeie waardes in leerders te vestig sodat hulle sukses in die lewe kan behaal.

“Die verhouding tussen die leerders en onderwysers kan egter klein skole soos ons se einde beteken,” het Weir gesê. “Daar is gelukkig op hierdie stadium geen sprake daarvan nie. Dit is waarom ons in 2018 met twee ander plaaslike kleiner skole in die omgewing saamgesmelt het.”

Laerskool Tuinplaas se buitegebou.

Die skool het sy deure in 1954 met 88 leerders begin. Vandag word daar vir 42 leerders onderrig gegee waarvan sowat 60% kinders van plaaswerkers is.

Daar is altesame 19 Afrikaanse en 23 Engelse leerders van gr. R tot gr. 7.

“Ons leerders kom sover as die weegbrug by Marble Hall en Marapejane. ’n Taxidiens is deur die departement van onderwys voorsien om kinders van die twee skole wat by ons ingeskakel het (Matlapeng en Sekatekate) na Tuinplaas te vervoer. Daar word nie meer kinders privaat aangery nie.”

Die grade word opgedeel in twee klasse per medium — gr. R tot 3 en gr. 4 tot 7.

Volgens die skool se beheerliggaam beplan die onderwysers daagliks lesse vir elke graad en bied dit deur die dag aan volgens die CAPS-kurrikulum. Die departement het een permanente pos een ad hoc-pos vir die skool geallokeer. Lorette van der Merwe is die Afrikaanse gr. R tot 3 onderwyser en daar is een Engelse onderwyser wat die Engelse kinders onderrig.

Die skoolwapen.

“Ons benodig eintlik vier onderwysers.”

Die skool se beheerliggaam betaal self om ’n derde gekwalifiseerde onderwyseres vir die Afrikaanse groep te behou, asook vir ’n onderwyserassistant wat tans in haar derde jaar onderwysstudies is vir die Engelse gr. R tot 3 klas.

“Omdat ons klein is, moet al die ouers hul kant bring. Die beheerliggaam onderhou die terrein, geboue, plant die skool se landery vir ’n inkomste, reël fondsinsamelings met die hulp van ouers en hanteer enige administratiewe probleme wat aandag verg,” sê die beheerliggaam.

Op sportgebied neem die leerders in atletiek deel teen Lord Milner School in Settlers en die Euphorbia Christelike Onafhanklike Skool in Mookgophong. Kultuurleerders neem jaarliks deel aan die Eugène N. Marais kultuurfees, die Conquesta Olimpiade en die Santam-kunskompetisie.

Van die leerders is ook ywerige perderuiters en neem deel aan geleenthede van die Suid-Afrikaanse nasionale perderuitersport assosiasie (Sanesa).

Die skool se jaarlikse tarentaaljagfonds-insameling is ’n hoogtepunt op hul kalender, asook hul prysuitdeling aan die einde van die jaar.

“Ons skool se standaard is hoog. Die leerders presteer baie goed en gaan met baie selfvertroue hoërskool toe. Baie van ons leerders het voorheen hoofseuns- of meisies van omliggende hoërskole geword.”

Hulle vertel dat Joost van der Westhuizen, bekende rugbyspeler se ma, Mariaan, onder andere op Tuinplaas skoolgegaan het. Joost se oupa, Baan van der Westhuizen, het in die omgewing gewoon.

Weir het in haar brief gevra dat die gemeenskap meer betrokke raak by die skool.

“Baie van ons ou Tuinies sal getuig: kinders speel nog in die modder en trap nou en dan op ’n doring en geniet die plaaslewe. Geen kind verdwyn in die agtergrond nie; almal neem deel. Ons leer saam wat wen en verloor is. Ons trek mekaar saam vorentoe en die leerders wat ons verlaat, pak die lewe daarna met ’n goeie gesindheid aan.”

Hulle hoofbehoefte tans is skryfbenodigdhede en skoonmaakmiddels. Navrae oor die skool kan gerig word aan Weir by retha@completenvironmental.co.za(.) Mense kan haar gerus bel by tel. 082 901 9769.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button