Local sport

Naboom-rugbyklub is naaswenners in liga

Naboom-rugbyklub van Mookgophong, het op Vrydag 7 Julie in die finaal van die Waterberg-liga of te wel die Limpopo Suidstreek, naelskraap teen die span van Loskop in Groblersdal met ’n telling van 21-29 verloor. Die halftyd telling was 26-7 in Loskop se guns.

“Ons het in die tweede helfte mooi verdedig, maar ongelukkig het die Loskopspan verbete bly veg,” het Martin van Heerden, spanbestuurder van die span aan Die Pos gesê.

Volgens hom het ’n paar van die senior spelers aan die begin van die jaar bymekaar gekom en besluit of hul vanjaar vir die liga gaan inskryf al dan nie. “Ons het besluit om te kyk of ons genoeg spelers kan kry, want as ’n span vir ’n jaar nie speel nie, sukkel hulle om weer op die been te kom,” het Van Heerden gesê.

Die besluit het vrugte afgewerp en dit was ’n baie suksesvolle seisoen. Baie nuwe spelers het aangesluit en Frikkie Geyser en Johnny Hitchkock het die span afgerig en die spelers gemotiveer tot die mooi prestasie.

Die liga bestaan uit agt spanne, wat strek vanaf Amandelbult tot Mogol in Lephalale en Loskop in Groblersdal. Die span van Mookgophong het in die semi-finaal gewen teen Mogol. Die manne het in vyf van hul wedstryde die septer geswaai. Die ander spanne is Vaalwater, die Kwagga-span van Bela-Bela, Modimolle en Syanda Wildebeeste.

Adriaan Pont (binne senter) en Kobus Du Plessis (agsteman) van die span het elk nege drieë gedruk die seisoen en albei het in die finaal weer ’n drie gedruk. Du Plessis is ook die spankaptein.

“Ons sien baie uit na volgende jaar en gaan nog harder werk as vanjaar. Ek is baie trots op die spelers en elkeen het bygedra tot ons span se sukses,” het Van Heerden gesê.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button