Local sport

Spelers gooi pen onderstebo vir wen

Bela-Bela-inwoners wat nie kans sien om in die koue weer buite te oefen nie, word genooi om liewer binnenshuis ’n potjie muurbal te kom speel.

Die Academia Private School op die hoek van Ludorf- en Van Stadenstraat het hul pragtige bane tot inwoners se beskikking gestel.

Volgens Chrisna van der Walt, skoolhoof, kan inwoners wat belangstel om muurbal te speel by die skool aanklop om toegang te kry.

Die koste vir individue beloop R500 en R700 per jaar vir gesinne (twee volwassenes en hul kinders jonger as 18 wat saam woon). Die huidige lidmaatskapfooie is geldig vanaf 1 Julie tot 31 Desember.

Vir mense wat wag vir die warmer seisoen, is daar ’n aansienlik goedkoper opsie. Vanaf Oktober tot Desember is die fooi R360 vir individue en R535 per gesinne, sê Van der Walt. Lede word versoek om ’n deposito van R100 te betaal vir sleutels tot die perseel.

Spelers betaal R15 vir elke halfuur se kragverbruik en kan dit by die skool se kantoor koop.

Lidmaatskapkaarte word gewoonik in Augustus hernu.

Van der Walt sê spelers word versoek om gepaste skoene met rubbersole te dra wanneer hulle van die bane gebruik maak. Ander skoene kan die baanoppervlak beskadig of swart merke laat.

Betalende lede kan die baan daagliks van 05:00 tot 22:00 gebruik.

Die gedrag van die spelers by die perseel word gemoniteer en vuil taal is onaan-vaarbaar, sê Van der Walt.

Mense wat slegs enkele kere die baan wil gebruik, word R25 per wedstryd gevra, plus die R15 vir ’n halfuur se kragvoorsiening.

Nie-lede kan slegs drie keer per jaar die enkeletarief betaal. Daarna moet hulle by die klub aansluit en die lidmaatskapfooi betaal.

Die baan kan slegs op bespreking gereserveer word. Lede of spelers moet vooraf die skool skakel en hul name in die register aanbring.

Indien spelers vyf minute laat opdaag vir hul bespreekte tyd, word die bespreking outomaties gekanselleer, lui die reëls.

Spelers met lidmaatskap mag sewe dae vooraf hul speeltye reserveer, maar is beperk tot drie besprekingstye per week sodat elke groep of persoon die voordeel kan geniet.

Alle fooie kan in die skool se rekening oorbetaal word. Bewys van betaling sal gevra word wat van toepassing is op alle spelers, toeskouers of besoekers.

Navrae oor die volledige reëls en bankbesonderhede kan per e-pos aan Van der Walt gerig word by admin@academia.org.za(.)

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button