Municipal

Louw reg vir vakante burgemeesterpos

Raadslede van die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit wag steeds vir die amptelike vergadering waartydens die raad ’n nuwe burgemeester moet verkies.

Die burgemeesterstoel, wat sedert 2016 ’n DA setel was, staan steeds leeg nadat Marlene van Staden in Junie aan kanker oorlede is.

Die DA se Federale Raad het intussen ’n keuringsproses gehou en daarna vir raadslid Hercules Louw van Mookgophong aangewys om Van Staden op te volg.

“Ek het altyd meer as een werk gehad en is baie opgewonde om moontlik burgemeester te kan word, al is daar baie uitdagings wat wag,” het Louw aan Die Pos gesê.

“Indien ek in die pos aangestel word, wil ek graag met al die politieke partye saamwerk en fokus op dienslewering sodat alle bevolkingsgroepe die voordeel kan geniet.”

Die Pos het hom uitgevra oor sy agtergrond.

Louw is in Upington in die Noord-Kaap gebore en het sy skoolopleiding daar voltooi.

Hy het sy vakleerlingskap in elektromeganiese ingenieurswese deur Iskor voltooi.

Hoewel hy toe reeds in diens van Iskor was, het hy in 1970 by die Suid-Afrikaanse Weermag aangemeld vir sy diensplig. Hy vertel hy het begin by die weermag se pantser-eenheid.

“Ek was van 1971 tot 1979 voltydse op die Angola-grens vir opleiding en operasies. Ek was betrokke toe die ou Volkbeweging vir die bevryding van Angola (MPLA) en die Nasionale Bevrydingsfront (FNLA) saamgesmelt het. Daarna is ek verplaas na die Sishen-myn in Kathu in die Noord Kaap, maar steeds betrokke in die weermag.”

Hy was daarvoor verantwoordelik om ’n opleidingsentrum vir vakleerlinge tot stand te bring, die hostel (enkelkwartiere) te bou en behuising in die dorp vir getroude personeel uit te brei. Hy was ook deel van die span wat die gholfbaan gebou het en ook ander bouprojekte om die dorp se infrastruktuur te verbeter.

Hy is in 1987 na Mafikeng verplaas waar hy na die rang van kommandant bevorder is.

“Daar was ek betrokke in logistieke ondersteuning en het as tweede in bevel by die ammunisiedepot gefunksioneer. Ek was agt jaar lank die bevelvoerder van die ammunisiedepot.”

Hy en sy vrou Suzette, wat tydens die Covid-19-pandemie oorlede is, het besluit om die rustiger lewe van die Bosveld hul tuiste te maak. Hulle het ’n onderneming besit wat huishoudelike gas aan kliënte voorsien het.

“Ek mis vir Suzette baie en dit is hoekom ek so besig as moontlik bly en nog take in my vol dagprogram pas.”

Hy vertel hy het saam met DA-raadslid Ena Boshoff in Mookgophong gewerk en is ná haar dood as nuwe DA-raadslid verkies.

Hy is die bestuurder van die Naboom Tuiste vir Bejaardes, die gemeenskappolisiëringsforum (GPF), sakekamer en verskeie gemeenskapdiensprojekte.

Hy het drie seuns wat tans in Nieu Seeland, Bredasdorp en in Mookgophong woon en werk.

Louw is ná die 2016 munisipale verkiesing as hoofsweep verkies met Van Staden as burgemeester en Dingaan Motswene as speaker.

“Ek dink my tegniese agtergrond is tot my voordeel in die uitvoer van my pligte as raadslid. Dit was veral tydens die samesmelting van die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteite baie nodig.

Die struikelblokke en uitdagings wat so ’n samesmelting kenmerk, is gou opgelos en daarna het die proses glad verloop,” vertel hy.

“Dit sal nie ’n maklike taak wees om in Marlene se plek te kan staan nie, maar sy het so ’n goeie grondslag gelê dat ’n mens daarop kan voortbou. God stel die leiers van die dag aan en rus ons toe om die werk te kan verrig.”

Hy vertel daar is verskeie kapitaalprojekte in die pyplyn wat in albei dorpe eersdaags sal afskop.

“Indien ek aangestel word, sal ek my bes probeer dat projekte suksesvol afgehandel word. Ek wil ook fokus om die uitstaande geld aan die munisipaliteit ingevorder te kry. Ek verwag om twee dae in Mookgophong en drie dae per week in Modimolle deur te bring.”

Louw het gesê daar bestaan die moontlikheid dat die verkiesing wéér, soos destyds met Van Staden se verkiesing, deur middel van ’n loting gedoen sal word.

Related Articles

Back to top button