Local news

Rooiberg ’n finalis vir Dorp van die Jaar

Die gewilde joernaalprogram Kwêla, wat op kykNET uitgesaai word, lok elke jaar groot belangstelling met die aanwysing van die Dorp van die Jaar-kompetisie.

Groot pryse en reklame is vir die wendorp op die spel.

Benoemings vir dorpe het in Maart gesluit. Dorpe wat minder as 500 000 inwoners het en nie erken word as ’n stedelike gebied nie, kan benoem word.

Die laaste twee jaar se wendorpe mag volgens die reëls vir ses jaar nadat hulle die titel gewen het, nie weer benoem word nie.

Die finaliste wat aangekondig is, sluit in: Parys (Vrystaat), Willowmore (Oos-Kaap), Delmas (Mpumalanga), Hartebeespoort (Gauteng/ Noordwes), Niewoudtville (Noord-Kaap) en Bonnievale (Wes-Kaap).

Die finalis vir Limpopo is Rooiberg, ’n eertydse myndorp wat tussen Thabazimbi en Bela-Bela geleë is. Dié dorp het van gedaante verander en is nou ’n trekpleister vir eko-toeriste in die Waterberg. Inwoners van Rooiberg is baie trots op hul benoeming en sê dit sal toerisme in die omgewing bevorder.

Die finale ronde vir Dorp van die Jaar begin op Sondag 16 Julie om 19:00 die aand en eindig op Vrydag 21 Julie om 12:00.

Mense kan vir hul gekose dorp stem deur die naam van die dorp te SMS na tel. 33157. Elke SMS kos R1,50.

Die wendorp word op Sondag 30 Julie regstreeks tydens Kwêla se uitsending bekendgemaak.

Die wendorp ontvang ’n bemarkingswaarde-prys ter waarde van R1 miljoen van kykNET, asook ’n 45 sekonde advertensie op nasionale televisie oor die dorp.

Finaliste moes elk ’n sakeplan aan kykNET stuur en vertel hoe hulle die wengeld sal aanwend om hul dorp te verbeter en te bemark.

’n Feesviering en musiekkonsert word later ook op die wendorp aangebied.

Vir meer inligting volg die verrigtinge op kykNET, kanaal 144 op DSTV of besoek hul webtuiste by www.dstv.com/kyknet(.)

Related Articles

Back to top button